Nico Strydom
Mediese skemas se reëls is dikwels kompleks en met meer as 83 mediese skemas in Suid-Afrika is dit belangrik om die regte skema vir jou en jou gesin te kies.
Philip Ferreira, ʼn finansiële beplanner, het aan IOL gesê dat as mense meer waarde vir hul geld wil kry, hulle hul regte moet ken, hul mediese skemas moet verstaan en bewus moet wees van hul gesondheidsbehoeftes. Ferreira het gesê dit is nie altyd maklik om ʼn mediese skema te verstaan nie, aangesien die reëls redelik tegnies kan wees.
Volgens Ferreira is dit ʼn algemene wanopvatting dat mediese fondse dikwels nie hul lede se eise betaal nie. Volgens die Raad op Mediese Skemas (RMS), die reguleerder van die siekefondsbedryf, het mediese fondse in 2013 meer as R129 miljard in bydraes ontvang teenoor die meer as R112 miljard wat in eise uitbetaal is.
Ferreira het gesê daar is ook ʼn wanopvatting dat mediese fondse baie geld uit hul lede maak. Volgens hom word mediese fondse nie toegelaat om ʼn wins te maak nie, aangesien enige surplus wat gemaak word as reserwes aangewend moet word of lede se bydraes in die volgende jaar verminder moet word.
Ferreira het verbruikers aangeraai om die RMS se jaarverslae te raadpleeg vir inligting oor die verskillende mediese fondse. Die verslae gee, onder andere, inligting oor hoeveel lede die onderskeie mediese fondse het; die vlak van hul reserwes; hoeveel bydraes die fonds jaarliks insamel en hoeveel eise uitbetaal word.
Volgens Ferreira is dit baie belangrik om sekere dinge rakende jou mediese se fonds se voordele te weet. Mediese skemas word verplig om hul lede vir voorgeskrewe minimumvoordele (VMV’e) te dek. Die VMV’e is ʼn reeks voordele wat verseker dat alle lede van mediese skemas toegang het tot sekere gesondheidsdienste.
Volgens die RMS is 8,7 miljoen Suid-Afrikaners lede van mediese fondse. Op 31 Desember 2013 was daar 87 geregistreerde mediese fondse. Oor die afgelope dekade het die aantal mediese fondse van 133 tot 87 verminder.
Daniel Lehutjo, waarnemende uitvoerende hoof en registrateur van die RMS, het gesê dit is baie belangrik om die korrekte voordeelopsie te kies, nie net volgens prys nie, maar ook deur navorsing te doen.
“Dit is noodsaaklik dat hooflede alle materiaal wat deur die fondse verskaf word, deurlees en vertroud raak met inligting oor nuwe voordeelopsies. Maak seker jy verstaan hoe die voordeelopsies werk en kies ʼn plan volgens jou gesondheidsorgbehoeftes en wat jy kan bekostig. As jy onseker is, bel die skema sodat hulle enige veranderinge, perke, voordele en ander relevante inligting aan jou kan verduidelik.”
Lehutjo het gesê baie mense verkies om van ʼn agent of makelaar gebruik te maak. “Onthou dit is nie verpligtend om ʼn makelaar te gebruik nie, maar indien jy dit doen, moet jy onthou om seker te maak dat die persoon by die RMS geakkrediteer is en dat jou keuse van ʼn skema en voordeelopsie op ingeligte toestemming gegrond is.”
Volgens Lehutjo is daar ʼn paar basiese stappe om die regte mediese fonds te kies. “Identifiseer ʼn paar skemas en versoek inligting oor die spesifieke fonds se voordele, bydraes, beperkings en uitsluitings. Vergelyk die inligting en kyk watter fonds voldoen aan jou behoeftes.”
Lehutjo het gesê dit is ook belangrik om uit te vind wat die onderskeie skemas se reserwes is sowel as hulle uitgawes, soos administratiewe koste, wat nie met gesondheid verband hou nie. “Maak seker jy verstaan wat voorgeskrewe minimumvoordele is en onder watter omstandighede die skemas die spesifieke dekking bied. Jy kan ook kyk na die fonds se aangewese diensverskaffers, hoe naby hulle aan jou is, sowel as ander netwerke wat voordele aan lede verskaf,” het Lehutjo gesê.
Bronne:
IOL: “Getting value from your medical scheme” – http://www.iol.co.za/business/personal-finance/getting-value-from-your-medical-scheme-1.1571051#.VMZ6ZP7Ldgk
Raad op Mediese Skemas – https://www.medicalschemes.com/Default.aspx
Oops! We could not locate your form.