Deur dr. Eugene Brink
Ofskoon algehele misdaadvlakke in die 2019-’20 boekjaar gedaal het vergeleke met die vorige jaar, is die detail misleidend en bly misdaad onaanvaarbaar hoog.
Hierdie tendens kan daaraan toegeskryf word dat minder misdade in gemeenskappe aangemeld is en dat minder misdade deur middel van polisieoptrede opgemerk is, berig BusinessTech. Hoewel hierdie feite nie behoorlik gekontekstualiseer word nie, kan daar met redelike sekerheid aangeneem word dat gemeenskappe besig is om vertroue in die polisie se vermoë te verloor en dus nie moeite doen om meer ʼn menigte misdade aan te meld nie.
Motorkapings het byvoorbeeld op ʼn jaargrondslag heelwat gestyg. Meer as 18 000 motorkapings is aangemeld en sowat 50 voertuie word daagliks in Suid-Afrika gesteel. Rooftogte by nieresideniële eiendomme het daarbenewens met 3,3% gestyg. Te midde van dalings in ander misdaadkategorieë, het moord op ’n jaargrondslag nogtans met 1,4% gegroei en 58 mense word per dag vermoor – een van die hoogste vlakke ter wêreld.
Die polisie se selektiwiteit ten opsigte van die impak van Covid-19 en die gepaardgaande inperking vanjaar – wat nie by 2019-’20 se statistiek ingesluit is nie – is ook problematies, sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum Gemeenskapsveiligheid. “Dit is interessant dat die minister van polisie skielik, ná die streng vlakke van die inperkingsregulasies, ʼn kwartaallikse verslag die lig laat sien het. Dit is voor die hand liggend dat misdaadsyfers laer sou wees, gegewe die feit dat mense in hierdie tyd nie toegelaat is om hul huise sonder goeie rede te verlaat nie. Dit is egter ʼn verwronge beeld van die waarheid.”
Bewapen jouself en raak betrokke
Dit is vanselfsprekend dat ondanks die effens meer positiewe data, indiwidue en gemeenskappe onveilig is en voel. Dit is juis om hierdie rede dat hulle self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet aanvaar.
Volgens Kamfer moet indiwidue hulle binne die raamwerk van die wet met vuurwapens bewapen. “Sodanige wapen moet ook nie net in die kluis lê nie. Die eienaar moet weet hoe en wanneer om die vuurwapen aan te wend. Indien iemand hulself kan beskerm, kan hulle hul bure beskerm, en as bure mekaar beskerm, word ʼn gemeenskap beveilig.
“Wees paraat, kyk met kritiese oë na jou huis en stel vir jou scenario’s voor. Doen dan stappe om jou sekuriteit by die huis te verbeter na aanleiding van hierdie oorwegings.”
Hy raai mense ook aan om by veiligheidsstrukture in hul gemeenskap betrokke te raak. “Hoe meer mense betrokke raak en patrollie ry, hoe ‘harder’ is die gemeenskap as moontlike teiken. Jy maak deur al die bogemelde te doen, jou gemeenskap weerbaarder.”
Mense kan nie net bloot wag vir ʼn beter toekoms nie. Die vooruitsig wat misdaadtendense betref, is ongelukkig ʼn droewige prentjie, aldus Kamfer. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reeds in 2018 aangedui dat hulle nie in staat is om aan sy grondwetlike mandaat te voldoen en die burgers van die land en hul eiendom te beskerm nie.
“Die reserviste wat kosteloos tot die SAPD se beskikking was, het drasties gedaal en die polisielede uit eie geledere het ook afgeneem. Die laasgemelde, tesame met korrupsie en wanbestuur, asook die tekort aan behoorlike polisiëring van die land se grense, veroorsaak dat misdaadsyfers sal aanhou toeneem. Gemeenskappe moet hulself beskerm en organiseer.”
Bron
BusinessTech, 31 Julie 2020, “South Africa crime stats 2020: Everything you need to know”, https://businesstech.co.za/news/government/421424/south-africa-crime-stats-2020-everything-you-need-to-know/.
Oops! We could not locate your form.