Deur Marli Naidoo
Daar is verskeie redes waarom sommige honde baie blaf.
Party honde-rasse blaf meer as ander. Moenie ʼn waghond kies indien jy nie wil hê dat hy moet blaf nie.
Honde wat nie genoeg oefening kry nie, is geneig om meer te blaf.
Te min stimulasie kan veroorsaak dat jou hond verveeld raak. Wanneer honde die hele dag alleen gelos word, kan hulle begin verlang, verveeld raak, en sonder ophou begin blaf.
Honde is oor die algemeen opgewonde kreature. Wanneer jy met hulle speel, kan hulle spelerig blaf. Hierdie is tog hulle manier van praat. Honde kommunikeer deur te blaf, kerm, huil. Dit is nie reg om hulle heeltemal te keer wanneer hulle wil gesels nie. Hulle moet egter nie te veel praat nie.
Honde kan soos kinders wees wanneer hulle nie genoeg aandag kry nie, en ʼn geraas probeer maak om jou aandag te trek. Sommige honde is egter regte vrate vir aandag, en kan net nie genoeg kry nie.
Hulle kan ook voel dat dit hulle verantwoordelikheid is om hulle gebied (jou erf) te beskerm.
Gelukkig is daar hoop. Met geduld en volharding kan jy jou hond help om nie vir alles te blaf nie. Om te skree gaan nie werk nie. Jou hond dink dat jy saam met hom blaf! Moet hom ook nie straf wanneer hy op sy manier probeer kommunikeer nie.
Sorg dat jou hond genoeg oefening kry. Selfs al het jy ʼn groot erf, moet jy hom steeds daagliks vir ʼn stappie vat. Gaan stap vir ʼn uur elke dag, gooi vir hom ʼn bal, maak ʼn koeldrankbottel vol lekkernye en maak gaatjies in die bottel. Hy sal dit geniet om die happies uit die bottel uit te kry. Hy moet dus gestimuleer bly, en te uitgeput wees om selfs te dink daaraan om onnodig te blaf. Jy kan hom ʼn ligte gewigdraende uitrusting laat dra tydens julle stappie. Dit sal hom ekstra moeg maak.
Verwyder die motivering. Indien jou hond graag by die hek vir almal wat verbyloop blaf, kan jy ʼn versperring opsit sodat hy nie verbygangers kan sien nie. Bedek byvoorbeeld die hek met digte skadunet. Jy kan hom ook in die huis by jou hou. Dit sal hom in elk geval baie meer gelukkig maak om naby jou te wees.
Ignoreer jou hond wanneer hy blaf. Sodra hy ophou, kan jy hom ʼn beloning gee. Hou daarmee vol, en hy sal gou besef dat dit hom baat om nie heeltyd te blaf nie.
Die volgende metode mag vreemd klink, maar leer eers jou hond om te blaf op bevel. Beveel hom om te “praat”, en wanneer hy dan blaf, moet jy ʼn lekkerny vir hom gee om te ruik, en dan te eet. Wanneer hy gewoond daaraan is om op bevel te blaf, kan jy die volgende bevel byvoeg: “Bly stil”. Wanneer hy dan ophou met blaf, is dit weer tyd vir ʼn lekker beloning. Oefen hierdie tegniek aan die begin in ʼn stil en rustige omgewing. Jy kan mettertyd afleidings byvoeg, soos om jou kinders naby te hê, of dit naby die hek te oefen. Hou aan met oefen totdat hy altyd gehoorsaam is wanneer jy hom beveel om stil te bly.
Wees geduldig en konsekwent. Almal in jou gesin moet dieselfde metodes toepas en nie daarvan afwyk nie. Jy kan, met genoeg belonings en tyd, jou verhouding met jou hond en jou verhouding met jou bure in stand hou.
Bronne:
Bernice Jaffe Animal Behaviourist: https://www.bernicejaffe.co.za/barking.html
Humane Society: https://www.humanesociety.org/resources/how-get-your-dog-stop-barking
Petcube: https://petcube.com/blog/stop-dog-barking/
Foto krediet:
Oops! We could not locate your form.