Deur Essie Bester
Geen ouer wil hoor dat sy/haar kind ‘n boelie is nie. Dit is pynlik om aan jou kind te dink as iemand wat ander kinders skade berokken. Maar afknouery is ook ‘n ernstige kwessie vir die aggressor.
Kinders se vriendskapsvaardighede is ‘n belangrike aanduiding van hul algemene geestesgesondheid. As jou kind aan boeliegedrag deelneem – hetsy fisies of verbaal – kan dit ‘n teken van ernstige nood wees. Sy ervaar dalk angs of depressie, en sukkel om haar emosies en gedrag te reguleer
Volgens dr Jamie Howard, ’n senior kliniese sielkundige by The Child Mind Institute in Amerika, neem kinders aan alle soorte gedrag deel, wat geensins ‘n weerspieëling is van wie hulle as ‘n persoon is nie.
Daar is baie redes waarom ‘n kind wat haarself andersins goed gedra, onvriendelik teenoor ander kinders kan wees. Hier is ‘n paar voorbeelde:
Sy wil inpas by ‘n groep vriende wat een klasmaat afknou.
Sy word by die huis of by die skool geboelie, en probeer om ‘n gevoel van mag terug te kry deur aggressief teenoor ander op te tree.
Sy soek aandag van onderwysers, ouers of klasmaats, en slaag nie daarin om dit op ander maniere te verkry nie.
Sy is van nature meer selfgeldend en impulsief as haar maats.
Sy het ‘n neiging om die gedrag van ander kinders as vyandig te beskou, selfs wanneer dit nie is nie.
Sy verstaan nie heeltemal hoe haar gedrag die slagoffer laat voel nie – dit is veral waar van jonger kinders.
Deur met jou kind daaroor te gesels om vanuit haar oogpunt te verstaan wat aangaan en haar deur toepaslike vriendskapsgedrag te lei, kan jy afknouery hokslaan en die kwessies aanspreek wat dit in die eerste plek kon veroorsaak het. Hier is ‘n paar wenke om te verseker dat jou kind respekvolle verhoudings met haar maats koester:
Luister na wat ander oor jou kind se gedrag te sê het. Luister ook na jou kind se weergawe van die storie. Dit kan jou help om te verstaan hoekom die sosiale aggressie plaasvind, en watter stappe geneem moet word om dit te stop.
Nie alle kinders kan verwoord hoekom hulle so optree nie. Veral jonger kinders en kinders wat met angs, trauma of ‘n ander geestesgesondheidskwessie sukkel, ondervind probleme hiermee. Indien jy sukkel om die redes vir haar optrede te vind moet jy dit oorweeg om ‘n kindersielkundige of psigiater te raadpleeg.
Bespreek situasies wat vir haar moeilik kan wees om te hanteer en help haar om haar sosiale en emosionele vaardighede te ontwikkel. Vertel haar byvoorbeeld dat jy wil hê sy moet ander kinders insluit en respekvolle taal gebruik wanneer hulle vra om met haar te speel.
“Hou verskillende oplossings gereed vir al die kwessies wat moontlik kan opduik en gee duidelike voorbeelde van hoe jy verwag sy moet reageer, “sê dr. Howard. Leer haar om empaties te wees deur haar te laat dink oor hoe sy sou voel as sy geboelie sou word.
“Dis vir ouers belangrik om te besef hoe hul gedrag hul kinders kan beïnvloed – die manier waarop hulle met hul kinders en gades praat en die manier waarop hulle woede hanteer,” sê Kristin Carothers, ‘n kliniese sielkundige.
Maak seker jou huislike lewe weerspieël dit tipe gedrag wat jy wil hê jou kind by die skool moet uitleef. Moenie skinder, boelie-tipe praatjies of grappies toelaat nie, werk daaraan om te sorg dat almal beleefd optree, moedig jou gesinslede aan om mekaar te help en ondersteun waar hulle kan.
Straf kan effektief wees solank dit betekenisvol is en beperk word. Kuber-afknouery kan byvoorbeeld met ‘n onmiddellike verlies van internet- of selfoonvoorregte gepaard gaan. In ernstige gevalle kan jy haar voorregte vir die afsienbare toekoms wegneem en die hulp van ’n terapeut inroep. In minder ernstige gevalle behoort sy haar voorregte binne ’n paar dae terug te kan verdien. “‘n Voorreg wat te lank weerhou word, kan sy geldigheid verloor,” waarsku Carothers.
Sodra jou kind haar voorregte herwin het en kalm is, kan jy aan haar verduidelik dat sy ‘n fout gemaak het wat reggestel moet word. Gesels met haar oor hoe sy om verskoning kan vra.
As ‘n ander ouer jou nader oor jou kind se afknouery moet jy dadelik jou kind se onderwysers in kennis stel sodat hulle op die uitkyk kan wees vir problematiese gedrag. Volg gereeld op met haar onderwysers en prys haar wanneer sy deernis vir ander wys.
Kuber-afknouery kan moeiliker wees om te moniteer. Kry wagwoorde vir haar Facebook-, Instagram- en Twitter-rekeninge en gaan dit gereeld na om seker te maak dat sy sosiale media op ‘n vriendelike manier gebruik. Laat haar weet dat jy haar sosialemedia-aktiwiteit sal moniteer totdat sy bewys dat sy dit verantwoordelik kan hanteer.
’n Oop kommunikasiekanaal met jou kind, waar jy op hoogte bly van haar daaglikse doen en late, sal jou in ’n beter posisie plaas om tekens van afknouery en moeilikheid vroegtydig te herken. Gesels daagliks met jou kind en vra oop vrae.
Dit kan moeilik wees om aan die gang te kom, maar kinders waarvan daar gereeld verwag word om besonderhede van hul lewens met hul ouers te deel, is meer gemaklik om in adolessensie voort te gaan om hul ouers te laat weet wat hulle doen, sê Carothers. Sorg dus dat jy teenwoordig is en op ‘n ondersteunende, nie-veroordelende manier met jou kind verbind bly. Dis dan ook dikwels die sleutel tot die vermindering van enige aggressiewe gedrag.
As jy egter voortdurend aan jou kind se vriendskapsvaardighede werk maar die afknouery bly voortgaan, moet jy hulp soek. Jou kind het dalk ‘n terapeut se hulp nodig om deur onderliggende probleme te werk.
Bronne:
https://childmind.org/article/what-to-do-if-your-child-is-bullying/
https://www.netwerk24.com/baba-en-kleuter/kleuter/my-kind-is-n-boelie-20181218
Oops! We could not locate your form.