Deur Marli Naidoo
Noodhulp is een van daardie dinge wat mens net eenvoudig moet leer, selfs al hoop mens dat jy dit nooit sal hoef te gebruik nie. Ongelukkig is dit ook een van daardie dinge waaroor ons as ouers geneigd is om met mekaar te bespreek, maar nie met ons kinders nie. Die rede hiervoor is dat ons nie ons kinders wil bang maak nie.
Dit is egter belangrik om as gesin hieroor te praat sodat almal voorbereid is. Wat sal jou kind doen as sy oppasser iets oorkom en hom nie op daardie oomblik kan versorg nie? Hy weet wat die nodige stappe is.
Jong kinders kan leer hoe om om hulp te roep, en hoe om basiese noodhulp toe te pas. Hulle leer so vinnig en kan meer doen as wat ons partykeer verwag.
Wanneer ons as ouers gemaklik en bevoeg met die toepassing van noodhulp voel, sal ons op natuurlike wyses die relevante vaardighede kan integreer in ons alledaagse lewens. Dit kan spelenderwys gebeur en sal dan nie vrees tot gevolg hê nie. Noodhulp gaan oor die menslike liggaam, wat natuurlik fassinerend is.
Wanneer ʼn gesin saam toegerus word om noodhulp toe te pas, leer hulle saam om mekaar veilig te hou en wat om te doen as iets verkeerd gaan.
Jy kan jou kinders van kleins af leer hoe om klein wondjies te ontsmet en pleisters op te sit, of drukking op ʼn groter bloeiende wond uit te oefen. Hulle kan ook vroeg begin leer om ys in ʼn lappie toe te draai en op ʼn stampplek te sit. Hulle moet ook weet wanneer dit nodig sal wees om nooddienste te bel, en hoe om dit te doen.
Fokus op tipiese noodgevalle wat moontlik in jou gesin kan voorkom. Lei ʼn familielid aan epilepsie? Wat moet gedoen word wanneer hy of sy ʼn aanval kry. Het een van julle ʼn ernstige allergie? Wat is die stappe indien hy of sy ʼn allergiese reaksie kry?
Die algemeenste noodgevalle waarop ʼn gesin voorbereid moet wees, is brandwonde, verstikking, verdrinking, val, vergiftiging en versmoring. Almal in die gesin moet weet wat om te doen wanneer so-iets gebeur.
Skep akronieme sodat almal maklik die nodige stappe kan onthou, en oefen deur rolspel hoe om die stappe toe te pas.
ʼn Gesinsvriendelike noodhulpkursus is ʼn wonderlike belegging vir elke gesin. Die mediese personeel sal presies weet hoe om jou kinders die nodige vaardighede op prettige maniere te leer.
Bronne:
Family Education: https://www.familyeducation.com/kids/first-aid
Emergency First Response: https://www.emergencyfirstresponse.com/make-first-aid-and-cpr-training-a-family-affair/
Online First Aid.com: https://onlinefirstaid.com/first-aid-for-all-ages/
First Aid for Life: https://firstaidforlife.org.uk/the-benefits-importance-families-learning-first-aid-together/
Eartheasy: https://learn.eartheasy.com/articles/teaching-my-child-first-aid-6-essentials/
Oops! We could not locate your form.