Ons kinders het te veel (speel)goed!

Vrydag, April 21st, 2017

Karen van der Berg

 

Speelgoed, legkaarte, boeke, kunsprojekte, elektroniese toestelle en musiekinstrumente ─  noem dit op, en ons kinders het dit. Of dit gaan oor toenemende druk op of skuldgevoelens by ouers, een ding is seker: ons kinders het baie speelgoed. Kan te veel speelgoed nadelig wees, hoe kan ons dit minder maak en wat het ons kinders regtig nodig?

Dr. Dorothy Russell, ʼn arbeidsterapeut verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê babas en kinders het beslis nie die vragte en vragte speelgoed nodig nie.

Dorothy het 30 jaar gelede begin met navorsing oor hoe om kinders, veral gestremde kinders, met so min as drie items te laat speel en hulle terselfdetyd te stimuleer en ontwikkeling aan te moedig.

 

ʼn Beker, ʼn waslap en teelepels

Tydens haar navorsing het Dorothy honderde huishoudings besoek. Haar doel was om vas te stel watter huishoudelike items in die meeste huise beskikbaar is sodat mense wat speelgoed nie kan beskostig nie, ook hulle kinders kan stimuleer. Sy het gevind in 90% van dié huishoudings is daar bekers, waslappe en teelepels. Met hierdie drie items het sy  ʼn uitgebreide program ontwikkel vir kinders tot die ouderdom van vier jaar. Sy het tientalle verskillende speletjies vir die verskillende ouderdomme ontwerp deur slegs die drie items te gebruik.

 

Waarom so baie speelgoed?

Dorothy sê ouers verkeer onder baie druk.

“Ons lewe in ʼn tyd wat uiters kompeterend is. Alles word beter, word beter bemark en ons word soveel keer per dag visueel gebombardeer met soveel dinge.”

Dit veroorsaak dat ouers druk op hulleself plaas om nog meer vir hulle kinders te doen en nog meer aan te skaf.

Die feit dat mense lang ure moet werk om die begrotings te laat klop, maak ook dat ouers met baie onnodige skuldgevoelens sit.

“Dit is moeilike tye vir ouers en ek het baie begrip daarvoor.”

Speelgoed maak kinders gelukkig. Ouers wil hulle kinders gelukkig hou.

“Die waarheid is egter, aandag aan jou kinders maak hulle gelukkig. Om vir ʼn tydjie  elke dag jou onverdeelde aandag aan jou kind te gee, is baie belangriker as enige speelding. Jou tyd moet jou kinders se beloning wees, nie iets tasbaar nie. Speel met maklike goed wat tot jou beskikking is. Wat help ʼn netjiese huis, sonder skottelgoed en stof, maar daar word nooit werklik in die huis gespeel nie?”

 

Speelomgewing

Dorothy sê kinders speel lekkerder in ʼn omgewing waar hulle nie deur speelgoed oorweldig voel nie. “Minder speelgoed maak nie van jou ʼn slegte ouer nie. Gee eerder jou tyd en aandag.”

Dorothy sê dit beteken nie alle speelgoed is oorbodig en skadelik vir jou kind se ontwikkeling nie.

“Daar is wonderlike produkte op die mark. Hulle het beslis ʼn plek in ons kinders se lewens en ʼn doel. Dit is egter nie nodig om alles aan te skaf nie.”

 

Speel moet lekker wees

“Ons moet onthou dat kinders deur spel hulle wêreld verken en leer ken, maar speel moet altyd lekker wees. Dit gaan oor ons aanbieding en aandag wanneer ons speel, nie noodwendig met wat ons speel nie. ʼn Kind se werk is om te speel en dit is ʼn ouer se werk om betrokke te wees.”

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Is die afskaf van huiswerk ʼn goeie ding?
Anja van den Berg   ʼn Handjievol laerskole in Suid-Afrika het die omstrede besluit geneem om huiswerk af te skaf. Daardie skole se ouers slaak dikwels ʼn sug van verligting, maar is terselfdertyd besorg oor hul kinders se akademiese vordering. Huiswerk is al geslagte lank een van die hoekstene van skoolonderrig, maar dit raak al […]
Wil jy suksesvolle kinders grootmaak? Doen dan elke dag dié 7 goed
Bill Murphy Jr.   “Ons is wat ons herhaaldelik doen,” sê Aristoteles. “Uitnemendheid is nie ʼn daad nie, maar ʼn gewoonte.” Dit geld vir ons en ons kinders. Ryk ouers gee hulle kinders ʼn reusevoordeel bloot deur hulle in ʼn bevoorregte buurt groot te maak. Nie almal hou van dié idee nie. Party mense sal […]
My kind is altyd laat
Marli Naidoo   Hoekom moet ons so sukkel om ons kinders betyds by die skool te kry? Elke oggend is ʼn uitputtende gedoente van aanpor en frustrasie. Ongelukkig is dit nie ʼn probleem wat met ʼn vyfstapplan uit die weg geruim kan word nie. Kinders se aandag is van nature hoogs afleibaar, en die ontwikkeling […]
1 2 3 102