Deur Melodie Veldhuizen
Julle twyfel nie aan julle liefde vir mekaar nie. Tog voel julle dikwels ongeliefd en daarom onvergenoegd. Dis omdat mense liefde op verskillende maniere ervaar, daarom beleef jou geliefde die manier waarop jy toon dat jy omgee nie as liefde nie.
Gary Chapman, ʼn kundige op die gebied van verhoudings en huwelike, onderskei in sy boek, Vyf tale van die liefde, die volgende liefdestale: opbouende woorde, gehaltetyd, geskenke, diensbaarheid en fisieke aanraking.
- Opbouende woorde: Dit beteken komplimente vir spesifieke dinge wat jy aantreklik vind en opregte woorde van dank vir spesifieke dinge wat jou maat doen waarvoor jy dankbaar is. Bemoedigende woorde bevestig dat jy in jou maat se vermoë glo, dat jy omgee en hom of haar ondersteun. As jy liefde verbaal kommunikeer, gebruik vriendelike woorde in ʼn vriendelike stemtoon. Waak teen afbrekende kritiek. Doen dit verbaal, of met ʼn mooi briefie of WhatsApp.
- Gehaltetyd gaan oor saamwees, met gefokusde aandag. Doen dinge saam met jou maat, met onverdeelde aandag – gaan eet saam, kyk mekaar in die oë, gesels met mekaar. Gaan stap lang ente. Geniet mekaar se teenwoordigheid sonder die onderbreking van selfone of kinders wat nóú jou aandag verg. Wanneer jou maat vir jou iets vertel, luister aandagtig en hoor ook jou maat se emosies agter die woorde.
- Geskenke is een van die maklikste liefdestale. Dit hoef jou nie noodwendig baie geld uit die sak te jaag nie. As jy duur geskenke kan bekostig, waarom nie? Maar ʼn handgemaakte geskenk of kaartjie, of ʼn blom uit die tuin sal altyd haar hartsnare roer. Daar is ook die geskenk van jou fisieke teenwoordigheid, veral in ʼn krisistyd of wanneer hy/sy ontsteld is. Die belangrikste is dat jy dit wat jy gee, met oorgawe en entoesiasme doen. Onthou altyd spesiale geleenthede soos jul huweliksherdenkings en jou maat se verjaarsdag.
- Diensbaarheid is om vir haar dinge te doen soos kos maak, skottelgoed was, ander huistake te verrig, of te help met die kinders se versorging. Bied aan om jou man te help met tuinwerk of om die motor te was. Die towerwoorde is altyd: “Ek sal jou help”. Ander dinge, soos om jou maat soms met ontbyt in die bed te verras, of tee te maak sonder dat sy daarvoor vra, is ook tekens van diensbaarheid. En doen dit sonder om daaroor te kla.
- Fisiese aanraking: Hierdie taal is uitsluitlik nieverbaal. Liefdevolle aanraking kan eksplisiet wees en jou volle aandag asook tyd verg, soos ʼn skouer- of rugmassering. Dit kan ook implisiet wees en slegs ʼn oomblik van jou tyd in die verbygaan vra – ʼn hand op sy skouer terwyl jy tee maak, of oor haar hare streel wanneer jy by haar verbystap. Om naby mekaar te sit en hande vas te hou terwyl julle TV kyk, is kosbaar vir ʼn persoon vir wie fisiese aanraking belangrik is. ʼn Drukkie en ʼn soentjie, tydig en ontydig, sal jou maat laat blom. En in krisistye sal om haar styf vas te hou, meer troos as niksseggende woorde.
Só kan julle vasstel wat elkeen se primêre liefdestaal is
- Wat doen jou maat (of doen hy nié) wat jou die seerste maak? Die teenoorgestelde daarvan is waarskynlik jou liefdestaal.
- Wat is dit wat jy in die verlede die meeste van jou maat gevra het, of wat jy steeds gereeld vra? Dis waarskynlik wat jou laat voel dat hy/sy jou lief het.
- Hoe betoon jy liefde aan jou lewensmaat? Dis waarskynlik jou eie liefdestaal.
Skryf dit neer, asook die ander vier liefdestale in volgorde van belangrikheid. Deel hierdie inligting met mekaar – so leer julle mekaar se behoeftes ken.
Indien julle steeds onseker is oor wat jul primêre en sekondêre liefdestale is, voltooi die vraelys op https://www.5lovelanguages.com/profile/couples/.
Hierdie kennis gaan dit nie noodwendig makliker maak om af te wyk van jare se manier van dinge dien nie. Dit wat jou maat van jou verwag, is heel moontlik nie die manier waarop jy graag dinge doen nie. Maar onthou, dis ʼn keuse wat julle elke dag uitoefen. As jy jou lewensmaat se primêre liefdestaal ken en kies om dit te praat, sal julle mekaar se diepste emosionele behoeftes bevredig en albei sal veilig en geliefd voel.
Bronne:
Chapman, Gary. 2003. Vyf tale van die liefde. CUM.
The 5 love languages. https://www.5lovelanguages.com/
Vrouekeur. https://www.vrouekeur.co.za/leefstyl/praat-jy-jou-maat-se-liefdestaal