Tinus Vollgraaff
Die langnaweke en skoolvakansie is weer op ons en nie almal van ons het die voorreg om by ‘n oord of selfs by die see te gaan vakansie hou nie.
Maar moenie bekommerd wees nie, daar is klompe lekker dinge vir ‘n gesin om te doen in Gauteng:
1. Die Randse Skou vind van 25 Maart tot 3 April 2016 plaas by die Johannesburgse Eksposentrum. Dit is die grootste verbruikersuitstalling in die wêreld buite die VSA.
Die glanspunte sluit in die eksklusiewe Man Cave, ‘n internasionale mark, ‘n diereryk, ‘n wetenskap- en tegnologielaboratorium en, vir die tuinentoesiaste, die tuine en buitekamers.
Die Man Cave is iets nuuts en beloof om ‘n fees te wees vir die verveelde man, kêrel of tienerseun. Terwyl die vrouens inkopies doen, kan die mans op die Man Cave toesak en hulle verkyk aan tuisbioskope, klankstelsels, motorfietse en sporttoerusting.
Hierbenewens sal jou kinders gefassineer wees deur al die soorte speelgoed, speletjies en opvoedkundige materiaal by die Kids’ Kingdom.
2. Die organisasie Vriende van die Spoor nooi ook alle gesinne uit om saam te kom op die Paashaasekspres na Cullinan. Die trein vertrek op die kop om 08:00 op 28 Maart van die Hermanstadstasie. Die Paashaas gaan saam en deel presente uit aan die kinders.
By Cullinan het julle 4 ure om die dorp te geniet, te ontspan, rond te snuffel in die boetieks en ‘n rustige middagete te geniet. Besoek http://www.friendsoftherail.com/joomla/ vir kaartjiepryse en besprekingsinligting.
3. Gold Reef City: Dit het die enigste 4D-teater in Afrika, lewendige vermaak sowel as baie vermaak vir die kinders, soos ritte en diere op die plaaswerf. Opwindende ritte sluit in die Anaconda, Dream Boat Golden Loop, Jozi Express, Miner’s Revenge en die Raging River Rapids.
Groot ritte sluit in die Giant Wheel, Lazy Boats, Log Ride en Vintage Cars.
4. Rugby: Die 32ste Paasrugbyfees begin op Donderdag, 24 Maart, by St. Stithians-kollege in Randburg. Twaalf topskole sal deelneem. Die Lions speel ook op Saterdag, 26 Maart, teen die Cheetas op Emirates Airline Park.
Dit is fantastiese pa-en-seun-uitstappies, en selfs vir die hele gesin!
5. In Lynnwood, Pretoria, is daar nog ‘n Babela-vertoning en CD-vrystelling by die Atterbury-teater. Hierdie keer moet Babela en sy vriende vinnig optree om te keer dat hul geleifde bos deur ‘n reusagtige stootskraper vernietig word. Die vier Babela-boeke, wat hul avonture uiteensit en vol splinternuwe liedjies, sal by die vertoning te koop wees. Kaartjies kos R90 elk en is deur Computicket te kry.
Oops! We could not locate your form.