Deur Marli Naidoo
Covid-19 en die inperking los almal in hulle eie bootjies op dieselfde onstuimige see, en elke ouer het (gewillig óf ongewillig) in ʼn tuisonderwyser ontpop. Ten spyte daarvan dat dit ʼn heerlike tyd van samesyn vir gesinne is, is dit nie altyd ʼn maklike taak om jou eie kinders akademies te onderrig nie. Gelukkig is daar ouers wat reeds jare lank hulle kinders tuis onderrig en hope raad kan verskaf.
Moenie probeer om ʼn duplikaat van die skool by die huis te probeer skep nie. Baie ouers werk voltyds van die huis af of werk steeds uithuisig, en daar is nie genoeg tyd in ʼn dag om agt ure lank aan skoolwerk te spandeer nie. Wees buigsaam en moenie die genot uit julle samesyn wegneem deur alles te probeer beheer nie.
Moenie onbereikbare verwagtinge op jou kinders plaas nie. Hulle gaan moeg raak, fokus verloor, probeer om uit werk uit te kom, en die huis soos hulle huis (en nie die skool nie) behandel.
Roetines verskil van gesin tot gesin en die volgorde waarin die werk gedoen word, is minder belangrik as die omgewing en die metode van implementering. Die optimale tuisonderwysskedule is die een wat ʼn individuele kind (met sy of haar unieke persoonlikheid en behoeftes) besig hou. Ouers sal die meeste sukses behaal as hulle saam met hul kinders ʼn skedule opstel wat aan elkeen se individuele behoeftes voldoen.
Moenie heeldag in dieselfde vertrek deurbring nie. Doen verskillende take in verskillende areas, en sorg dat julle ook buite kom. Fisiese aktiwiteit gedurende verposings kan studente help om beter te konsentreer.
Gebruik die internet en selfstudie waar moontlik. Jy hoef veral nie elke oomblik wat jou hoërskoolkinders met skoolwerk besig is oor hulle te waak nie. Laat hulle gedeeltelik verantwoordelikheid aanvaar vir hulle eie vordering. Die internet voorsien jou kinders van onbeperkte inligting en geleenthede om nuwe belangstellings te ontgin en enigiets onder die son te leer. Wat ʼn geleentheid!
Beheer wat jy kan en moenie oor die res stres nie. Ons leef in ongekende tye, en dinge is nie normaal nie. Dít waarmee ouers besig is, is nie regtig tuisonderrig of tradisionele skoling nie, maar pandemiese ouerskap. Jy moet aanpassings maak en jou prioriteite herrangskik totdat alles weer na normaal terugkeer. Jy gaan heel moontlik nie so produktief soos gewoonlik wees nie, en die huis gaan nie so skoon en netjies wees nie.
Laat hulle toe om laat te slaap. Begin julle dag rustig en sonder konflik, op ʼn positiewe noot. Jy kan solank met jou eie werk aangaan terwyl jou kinders nog slaap.
Onderwys gaan nie net oor wat in die boeke staan nie. Dit gaan oor die ontwikkeling van karakter, gemeenskap en respek.
Elke oomblik bevat ʼn moontlike les. Jy kan jou kind ʼn koekieresep laat volg wat sy moet verdubbel. Dit sal as ʼn toegepastewiskunde-les tel.
Beoefen selfversorging, en moenie jou met ander ouers vergelyk nie. Kry genoeg slaap, eet gesond, neem alleentyd, oefen, en doen iets wat jy geniet. Wanneer jy nie na jouself omsien nie, gaan alles uitmekaar val.
Ons hoef nie ons kind se onderwyser te vervang nie. Hy is ʼn opgeleide, professionele mens wat ʼn belangrike rol in jou kind se lewe speel, en jy hoef nie sy skoene vol te staan nie. Wees net jouself en ondersteun jou kind as sy liefdevolle ouer.
Bronne
Express News: https://www.expressnews.com/lifestyle/health-family/article/Quarantine-schooling-Veteran-homeschooling-15174429.php
A Fine Parent: https://afineparent.com/coronavirus-support/schooling-at-home.html
Eureka Street: https://www.eurekastreet.com.au/article/tips-from-a-veteran-homeschooler
Oops! We could not locate your form.