Deur Nico Strydom
Talle lande het hul burgers in staat gestel om weer te kan reis te midde van die Covid-19-pandemie, maar kenners is dit eens dat die reiservaring vir nou en lank daarna baie anders gaan wees.
Suid-Afrikaners het op 1 Junie weer vir werk begin reis. Reis vir ontspanning of vermaak bly in die stadium verbode. Internasionale reis word ook nog nie toegelaat nie, met Suid-Afrika se grense wat steeds gesluit is.
Oz Desai, hoofbestuurder van Corporate Traveller, waarsku egter dat die reiservaring vir nou baie anders gaan lyk. “Reisigers behoort daarvan bewus te wees dat die reëls en regulasies vir reis voortdurend kan en gaan verander soos wat die risikovlak deurlopend herevalueer gaan word.”
In die stadium het net ʼn paar lughawens heropen en sal daar dus beperkte vlugte wees. Volgens Desai moet reisigers verwag dat sake heeltemal anders by lughawens gaan verloop as gewoonlik. Reisigers is verplig om gesigsmaskers te dra en sal die nodige dokumentasie byderhand moet hê om te motiveer hoekom hul moet reis.
Reisigers sal siftingstoetse ondergaan en kan toegang geweier word indien hulle enige simptome van Covid-19, soos ʼn hoë koors, toon. Sosiale distansiëring sal streng toegepas word en ontsmetting sal op talle plekke plaasvind. Volgens Desai kan die nuwe reislandskap tot onsekerheid en angstigheid vir reisigers lei.
In hierdie stadium kan vlugte op volle kapasiteit hervat. Reisigers sal egter steeds hul maskers op die vliegtuig moet dra en daar sal geen kos of verversings bedien word nie. Die heel agterste ry sal vir isolasiedoeleindes gereserveer word. Die vliegtuie sal voor en na elke vlug ontsmet word. Akkommodasieplekke sal slegs oop wees vir sakereisigers.
Dit gaan egter nie noodwendig wêreldwyd die geval wees wanneer mense weer regoor die wêreld kan reis nie. Talle lugrederye kyk na die moontlikheid om die middelste sitplekke in vliegtuie oop te los.
Selfs ná die Covid-19-pandemie sal daar na verwagting steeds strenger veiligheid- en gesondheidsmaatreëls op lughawens wees en sal dit waarskynlik beteken dat daar langer toue gaan wees.
Lughawens sal na verwagting ook al meer na ʼn sogenaamde raakvrye ervaring beweeg, waar mense bykans aan niks hoef te raak nie. Dit beteken biometriese en outomatiese e-hekke kan in gebruik kom.
Vliegkaartjies sal na verwagting in die afsienbare toekoms duurder wees aangesien lugrederye reuseverliese gely het weens die Covid-19-pandemie en weens die ekstra voorsorg wat getref moet word noudat hulle begin om vlugte te hervat.
Bronne:
Corporate Traveller: https://www.corporatetraveller.co.za/
Travelstart: http://www.travelstart.co.za/blog/the-new-normal-future-of-air-travel/
Oops! We could not locate your form.