Deur Lea Brink
Trooskos vir die koue en nat wintersaande. Hierdie gereg het nou al pannekoeke vervang in my huis.
Jy benodig:
500g beesmaalvleis
½ fyngekapte ui
1 koppie gevriesde mielies
½ teelepel fyngekapte rooi soetrissie
1 teelepel komynpoeier
1 teelepel koljanderpoeier
½ teelepel paprikapoeier
1 koppie fyngekapte spinasieblare
2 fyngekapte wortels
8 “tortilla wraps”
1 blikkie heel tamaties
100 ml suurroom
2 eetlepels bruinuiesoppoeier
1 eetlepel fyngekapte basiliekruid
Sout en peper na smaak
2 koppies gerasperde cheddarkaas
1 koppie gerasperde mozzarellakaas
Verhit die oond tot 180ºC.
Braai die gekapte uie en maalvleis in ʼn pan totdat dit goudbruin in kleur en gaar is.
Voeg die mielies, soetrissie en spinasieblare by. Roer goed deur. Voeg die komyn, koljander, paprika en wortels by.
Braai al die bestanddele totdat die maalvleisgereg gaar en goudbruin in kleur is.
Verdeel die maalvleismengsel in agt. Plaas een agtste van die mengel binne-in elke “tortilla wrap”.
Rol die “tortilla wrap” toe en vou die kante toe. Pak al agt toegevoude “tortilla wraps” in ’n oondbak . Plaas eenkant.
Verhit die tamaties, suurroom, bruinuiesoppoeier, basiliekruid, sout en peper in ʼn kastrolletjie.
Laat die tamatiesousmengsel vir 10 minute prut totdat die sous begin verdik.
Gooi die tamatiesousmengsel bo-oor die toegevoude “tortilla wraps” sodat dit ʼn milde souslaag vorm.
Strooi die cheddarkaas en mozzarellakaas bo-oor die tamatiesous.
Bak in die oond vir 15 tot 20 minute of totdat die kaas gesmelt is en goudbruin begin verkleur.
Bedien met ʼn avokadopeer-salsa.
Oops! We could not locate your form.