Lea Brink
Maak hierdie moeilike tyd baie spesiaal saam met jou gesin.
Jy benodig:
2 koppies bruismeel
2 teelepels bakpoeier
1 koppie margarien
1 koppie strooisuiker
groen voedselkleursel
pienk voedselkleursel
4 eiers
12 wit hol paaseiers
Vulsel: Wit sjokolade ganache
80 ml vars room
80 g opgekapte wit sjokolade
Versiersel: Botterversiersel
6 eierwitte
1½ koppies witsuiker
knippie sout
500 g sagte botter (kamertemperatuur)
2 teelepels vanielje-ekstrak
1 koppie “speckled” eiers
Verhit die oond tot 180ºC. Voer twee mediumgrootte koekpanne uit met bakpapier. Smeer of spuit die bodem en kante goed, sodat die koek maklik uit die pan kan kom.
Sif die bruismeel en bakpoeier saam in ʼn mengbak. Voeg die margarien, suiker en eiers by. Klits die beslag goed deur vir twee tot drie minute.
Verdeel die beslag in twee mengbakke en voeg ʼn paar druppels groen voedselkleursel in die een bak en pienk voedselkleursel in die ander bak.
Roer die beslag goed deur en skep in die koekpanne. Bak vir ongeveer 30 minute of totdat ʼn toetsstokkie skoon uitkom. Plaas eenkant om af te koel.
Wit sjokolade ganache:
Verhit die vars room in ʼn kastrolletjie op lae hitte totdat dit begin kook. Verwyder van die hitte en voeg die gesnyde stukkies wit sjokolade by. Wag een minuut en roer dan goed deur totdat al die sjokolade gesmelt is.
Plaas een van die koeke op ʼn koekbord. Versier met die wit sjokolade ganache. As die koek se bokant bietjie skeef is, sny dit eers reguit voordat jy begin versier. Plaas die tweede koek bo-op die eerste een en plaas in die yskas sodat die ganache kan hard word.
Versiersel:
Voeg die eierwitte, suiker en sout in ʼn mengbak. Plaas die mengbak oor ’n kastrolletjie met kookwater in. Klits die eiermengsel oor die kastrolletjie se hitte met ʼn handklitser totdat die suiker heeltemal opgelos is. Die eierversiersel moet warm wees.
Plaas die mengbak terug in die elektriese menger en klits op ʼn stadige spoed goed deur. Klits totdat die eierversiersel heeltemal afgekoel het en styf is. Ongeveer tien minute.
Voeg eetlepels botter op ʼn slag by die versiersel terwyl die elektriese menger op medium spoed klits. Maak seker dat elke eetlepel botter eers goed deurgewerk is voordat nog ʼn lepel botter bygesit word. Nadat al die botter baie goed deurgewerk is, hou aan klits vir nog twee minute totdat die versiersel glad voorkom.
Sny die wit hol Paaseiers in die lengte in twee helftes. Rangskik hulle reg rondom die koek.
Versier die bokant en kante van die koek met die “speckled” eiertjies.
Foto krediet:
Oops! We could not locate your form.