Dit is die era van facebook, Twitter, iPads en multimedia. Span dit gerus in, want die tegnologie het nuttige en praktiese idees, speletjies en bystand wat baie handig vir ouers en onderwysers van voorskoolse kindertjies kan wees.
Hier is ’n lysie van tien Afrikaanse opvoedkundige toepassings vir voorskoolse kinders:
Afrikaans 123, Afrikaans ABC en Afrikaans Vorms en Kleure: Die prettige toepassings leer jou kleinding die wonderwêreld van syfers, letters en klanke en bied ook vermaaklike maniere om die basiese vorms en kleure te leer. Daar word deurlopend van legkaarte en geheuespeletjies gebruik gemaak.
Klerekas: Om vir kinders die naam, uitspraak en doel van die verskillende liggaamsdele en kledingstukke te leer, is dié toepassing tops. Daar is fantastiese aantrekspeletjies wat kinders vir ure sal vermaak.
Pienkvoetpret: Die toepassing het hope oulike idees vir vakansiepret. Dit bied ook inligting oor kinders se ontwikkelingsmylpale en het ouderdomsgepaste speletjies.
My Pretplaas: Hierdie toepassing is gemik op kinders onder sewe jaar. Hiermee kan jou kind leer-leer pret hê met speletjies, saamleesstories en saamsingliedjies – alles uniek in Afrikaans en met die hulp van ’n arbeidsterapeut asook bekendes in die musiek- en kinderteaterbedryf.
Leer om tyd te lees: Die unieke toepassing is ontwikkel om jou kind te leer hoe horlosies werk en hoe om tyd te leer lees. Tyd is vir klein kindertjies ’n moeilike konsep en daarom is die toepassing ’n goeie idee.
Vrugte en groente: Dié een is perfek om jou kind sommer van kleins af aan die verskillende soorte vrugte en groente bekend te stel en sal help dat hulle ’n liefde daarvoor ontwikkel.
Liedjie: Die musiekstroomdiens bevat speellyste vir elke bui en geleentheid en spesifiek ook vir mammas om vir die kleinspan te speel. Ou treffers wat liefs nie verlore moet gaan nie, soos Jakkals en Wolf-stories deur Dana Niehaus en nog vele meer is beskikbaar.
Olke Bolke: Met dié toepassing leer jou kleuter ritme hou saam met ses van Elizabeth Fourie se lekkerste luisterliedjies. Jou kleuter kan instrumente verander soos hy speel en selfs die foon skud om die klank voort te bring.
Kleuterpret: Hierdie opvoedkundige Afrikaanse toepassing wat vir drie- tot vyfjariges ontwerp is, se doel is om skoolgereedheidsvaardighede speel-speel te ontwikkel.
Waarvoor is seerowers bang? Almal weet daar is net mooi niks waarvoor seerowers bang is nie. Of is dit? Hierdie rymende, skreeusnaakse seerowerstorie is ’n opwindende eerste – dit is die eerste oorspronklike Afrikaanse prenteboek wat tot ’n interaktiewe storie-toepassing verwerk is.Al die bogenoemde toepassings kan in die verskillende afdelings van die toepassingsaankope op jou slimfoon of rekenaar gevind word.