Deur Dr Eugene Brink
Een van die grootste bekommernisse wat baie troeteldierliefhebbers en -eienaars het, is wat om met hulle geliefde troeteldiere te maak wanneer hulle met vakansie gaan en hulle die diere nie saam met hulle kan neem nie.
Die joernalis Kedibone Modise sê as jou troeteldier(e) nie saam met jou kan reis nie, is dit ʼn uitstekende opsie om ʼn vriend of familielid te vra om by jou huis te kom bly terwyl jy weg is. Troeteldiere, veral honde en katte, sal gemakliker wees as jy hulle by ʼn bekende persoon in ʼn bekende omgewing los.
Om jou troeteldier aan iemand toe te vertrou wat jy weet vir hulle net soveel omgee as jy, sal jou gemoedsrus gee terwyl jy met vakansie is. Maak ook seker dat die oppasser voortgaan met jou diere se gewone roetine soos om met hulle te gaan stap.
Charles Kosman, ʼn reisblogger, sê dat dit gewoonlik die goedkoopste opsie is, en veral goed is wanneer jou troeteldier met die oppasser vertroud is. “As jy ʼn buurman of ʼn vriend vra wat naby julle woon, kan hulle waarskynlik meer gereeld oorkom as ʼn professionele persoon wat betaal word. Die nadeel is egter dat indien jou oppasser dit meer as ʼn guns as werk beskou, sal hulle dalk nie so verantwoordelik wees soos iemand wat wel betaal word nie.”
As jy hulle werk ʼn bietjie makliker wil maak, oorweeg dit om houers aan te skaf wat outomaties water of kos vir jou troeteldier voorsien.
Alhoewel daar baie mense is wat voltyds of in hulle vrye tyd na troeteldiere omsien, moet jy seker maak dat hulle betroubaar is, en bel altyd een of twee verwysings voordat jy hierdie uiters belangrike taak aan hulle toevertrou. Volgens Modise kos professionele troeteldieroppassers enigiets tussen R150 en R450 per dag, afhangend van die area en die tipe troeteldier. Besoek Petbacker.com vir meer besonderhede.
As dit nie te veel van ʼn ongerief is nie, kan jy ook jou troeteldier by ʼn goeie vriend of familielid los. Op hierdie manier hoef hulle nie te gereeld hulle eie huis te verlaat om vir jou troeteldier te sorg nie.
Met dit in gedagte, is hierdie roete meer raadsaam as dit ʼn klein, ouer of rustige dier is en nie ʼn groot, baldadige of ondeunde hond nie. In die geval van laasgenoemde kan die dier skade en verwoesting saai, soos om tuine om te dolwe of aan meubels te kou, en sodoende jou oppasser se rustigheid en ontspanningstyd, wanneer hulle dit die nodigste het, belemmer. Dit kan lei tot ʼn vriendskap wat versuur.
Natuurlik kan jy netsowel ʼn huisoppasser vir die hele tydperk huur. Dit is sommer twee vlieë met een klap: Iemand wat jou huis sowel as jou troeteldier(e) op een slag kan oppas. “Omdat ʼn huisoppasser in jou huis bly terwyl jy weg is, sal jy gemaklik daarmee moet wees dat hulle volle toegang tot al jou goed het. Dit is oor die algemeen ʼn meer bekostigbare opsie, aangesien jy verblyf vir troeteldierversorging verruil, hoewel sommige troeteldieroppassers ekstra betaal word,” sê Kosman.
Met al hierdie opsies moet jy gedetailleerde instruksies los – verkieslik skriftelik. ʼn Dier is nie ʼn plant nie en vereis veel meer as net water. “Ongeag of jy nou jou troeteldier iewers by ʼn hondeherberg inboek of iemand te kry om vir hulle te sorg, jy moet duidelike, gedetailleerde inligting los sodat daar geen verwarring of raaiwerk betrokke is nie. Los ʼn nota wat presies spesifiseer hoeveel kos jou troeteldier met elke maaltyd moet kry, insluitend hoeveel lekkernye om hulle te voer,” sê hondeliefhebber Kathleen McCafferty.
“As jou troeteldier(e) een of ander soort medikasie gebruik, los instruksies oor hoeveel hulle moet kry, sowel as die beste manier om dit aan hulle te gee (byvoorbeeld smeer die pil vol grondboontjiebotter), en enige ander belangrike inligting. Dit is ʼn goeie idee om jou huis- en troeteldieroppasser voor die tyd te laat kom sodat jy hulle jou roetine kan wys, waar alles is en hulle aan jou troeteldier(e) kan voorstel as hulle nog nie ontmoet het nie.”
Bronne:
Charles Kosman, 2012, “What to do with your pets when you go on vacation”, https://www.thebarefootnomad.com/info/what-to-do-with-your-pets-when-you-go-on-vacation/.
Kathleen McCafferty, 2021, “6 Tips for Pet Care When You’re Away on Vacation”, https://www.dogtagart.com/blog/6-tips-pet-care-when-you%E2%80%99re-away-vacation.
Kedibone Modise, 2 December 2020, “What to do with your pets when you go on holiday”, https://www.iol.co.za/travel/travel-tips/what-to-do-with-your-pets-when-you-go-on-holiday-8769d091-a3b9-40b5-b7e8-79cd8e99ae7e.
Oops! We could not locate your form.