Deur Emsie Martin
Of jy nou ’n groot erf of net ’n paar potte op die balkon het, begin met ’n gesinstuin. Dis maklik om saam tuin te maak en baie voordele sal daaruit voortspruit, nie net in gesinsverband nie, maar ook al die vars groente en pragtige blomme waarmee julle beloon word.
Nog voordat jy enige resultate in die tuin sien, sal jy reeds die verskil in jou gesin agterkom. Dit is saamtyd waar gesinslede kan skerts en gesels en almal sal die voordele daarvan ervaar.
Fisiese aktiwiteit
Tuinwerk is ook oefening wat elkeen van ons daagliks nodig het. Wanneer dit in ’n lekker geselssessie ontaard, kyk ’n mens nie eers na die tyd nie. Navorsing het bewys dat as jy eers in die tuin begin werk, jy selde minder as 30 minute daar spandeer. Dit is nou nie sulke intense oefening soos draf of tennis ens. nie, maar hier ontwikkel fyn motoriese vaardigheid en baie strekoefeninge word gedoen.
Minder stres en beter bui
Tuinwerk is uitstekend om stres te verminder. Jy word blootgestel aan vars lug, son en dit is ontspannend. Jy is selfs in kontak met skadelose bakterieë in die grond wat help om serotonien in die brein vry te stel.
Tyd in die buitelug
Kinders is geneig om deesdae baie tyd binnenshuis te spandeer. Tuinwerk lok almal na buite.
Slaap beter
Al bogenoemde (fisiese aktiwiteit, vermindering van stres en vars lug) kan bydra om beter te slaap. Wanneer ’n mens ’n goeie nagrus agter die rug het, het jy sommer ook ’n beter dag wat voorlê. Dit kan ook kinders se optrede en prestasie op skool verbeter.
Gesonder eet
Kinders wat self groete plant en sien hoe dit groei, is meer gewillig om groente te eet of selfs dan net om te proe hoe smaak dit wat hulle geplant en gesien groei het. Volwassenes is ook meer geneig om vars groente te eet as dit uit hul eie tuin geoes word.
Verantwoordelikheid
Tuinmaak help om kinders verantwoordelikheid te leer en gee hulle ’n gevoel van prestasie. Dit is ’n projek waar almal ’n bydrae kan lewer en sodoende ook gesinsbande kan versterk.
Kry ’n reënwatertenk as julle nie een het nie. Maak ’n komposhoop. As jy beperkte spasie het, begin met potplanthouers. Dit is ook ’n goeie bekendstelling aan jonger lede van die gesin.
Groente
Koop gerus saad om jou groentetuin mee te begin en plant sommer eerste almal se gunstelinge soos wortels, groenbone, soetrissies, aartappels en tamaties. Kinders raak soms ongeduldig om te wag, so laat hulle iets plant wat vinnig groei, soos radyse, ertjies of komkommers.
Blomme
Neem die kinders saam en laat hulle die blomme uitkies deur te kyk na die pragtige prentjies op die pakkies. Of sonneblomme, wat maklik is om te groei en dalk groter as die kinders gaan wees as hulle volle hoogte bereik het. Besluit om ’n tuin te skep wat pragtige vlinders lok. Dan kan julle nie net die pragtige blomme waardeer nie, maar ook die verskillende skoenlapperspesies geniet wat hul opwagting in die tuin gaan maak.
Vrugte
Vrugtebome is moeilik om te versorg en dit neem jare om enige iets te oes, maar aarbeie groei maklik van saad.
Werkies vir die kinders
Onthou almal werk saam, so gee aan elkeen ’n klein deeltjie om onkruid in die beddings te verwyder. Afhangende van die kinders se ouderdomme is daar ook ander take:
Wat julle as gesin ook al besluit om te doen, onthou om jou kind te leer namate julle vorder. Hier kan julle ook lekker gesels oor dinge wat pla en dit sommer saam met die kompos begrawe om later in julle pragtige tuin in te werk. Geniet julle tuin!
BRON:
https://www.verywellfamily.com/family-garden-to-improve-health-4127202
Oops! We could not locate your form.