Deur Emsie Martin
Die is weer tyd vir 16 Dae van Aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders, ʼn jaarlikse veldtog van 25 November tot 10 Desember om mense meer bewus te maak van die impak wat geweld teen vroue en kinders het. Maar maak dit regtig ’n verskil? Vroue voel soms vasgevang en bang om gesinsgeweld aan te meld. Daar is hulp, gesels met ʼn maatskaplike werker wat opgelei is om bystand te verleen. Hier is kortliks inligting wat ʼn verskil kan maak.
Wat is gesinsgeweld?
- enige fisiese mishandeling
- emosionele, verbale en sielkundige mishandeling
- seksuele mishandeling
- ekonomiese mishandeling (byvoorbeeld as jy onredelik van geld weerhou word, of die onredelike vervreemding van huishoudelike besittings waarin jy belang het, sonder jou toestemming)
- beskadiging van jou eiendom
- ongemagtigde toegang tot die woning van die slagoffer (byvoorbeeld om die woning van ʼn vorige meisie sonder haar toestemming binne te gaan)
- intimidasie (geskrewe of verbale doodsdreigemente wat vrees inboesem)
- teistering (byvoorbeeld ongewenste telefoonoproepe, bekruipery van die persoon of die rondslenter by plekke waar die slagoffer haar bevind)
- enige ander gedrag wat die veiligheid of welstand van die slagoffer skaad
Wat is my opsies as ek ʼn slagoffer van gesinsgeweld is?
Jy het die reg om:
- ʼn kriminele klag te lê;
- aansoek te doen om ʼn beskermingsbevel by die naaste landdroshof; en
- ʼn kriminele klag te lê en om ʼn beskermingsbevel aansoek te doen. Die lê van ‘n kriminele klag is nie ʼn vereiste vir die aansoek om ʼn beskermingsbevel nie.
Wat is ʼn beskermingsbevel?
Dit is ʼn bevel wat deur ʼn landdros uitgereik word wanneer die slagoffer daarom aansoek doen, wat:
- die dader van gesinsgeweld VERPLIG om op ʼn sekere manier op te tree (byvoorbeeld om die huur te betaal); en
- die dader van gesinsgeweld VERBIED om sekere dade te pleeg (byvoorbeeld, hy of sy mag nie die slagoffer aanrand of kontak nie).
Dit kan ook die dader verbied om hulp van ʼn ander persoon te kry om hierdie dade te pleeg. Die doel van ʼn beskermingsbevel is om die herhaling van die gesinsgeweld te voorkom. As die respondent egter enige bepaling van die beskermingsbevel veronagsaam, kan hy of sy gearresteer word.
Wie kan om ʼn beskermingsbevel aansoek doen?
- ʼn Slagoffer of enige ander persoon wat ʼn wesenlike belang in die welstand van die slagoffer het, wat ʼn raadgewer, ʼn gesondheidsdiensverskaffer, ʼn lid van die SAPD, ʼn maatskaplike werker of onderwyser insluit.
- ʼn Persoon wat namens die slagoffer aansoek doen, moet geskrewe toestemming hê om dit te doen, tensy die klaer minderjarig, verstandelik vertraag of bewusteloos
Wat kan ek doen as die dader ʼn beskermingsbevel veronagsaam?
- Bel die polisie. Hulle sal jou vra om ʼn beëdigde verklaring af te lê.
- Oorhandig die lasbrief tot inhegtenisname aan die polisie wat aandui dat jy dit tesame met die beskermingsbevel ontvang het. As jy dit nie byderhand het nie, moet jy die lede sodanig inlig.
Maak seker dat jy ʼn noodveiligheidsplan gereed het
- Identifiseer ʼn plek waar jy vinnig en maklik toegang tot ʼn foon kan kry of sorg dat jy altyd jou foon byderhand het.
- Dra altyd ʼn lys noodnommers saam met jou.
- Maak seker dat mense wat jy vertrou ʼn kopie van die beskermingsbevel en lasbrief tot inhegtenisname het.
- Hou geld op ʼn veilige plek wat jy kan gebruik om in ’n noodgeval ʼn taxi of bus te neem.
- Hou ʼn ekstra stel sleutels vir die huis of kar op ʼn veilige plek.
- Indien moontlik, pak ʼn stel klere vir jou (en jou kinders) in ʼn tas en hou dit op ʼn veilige plek.
- As jy beplan om weg te gaan, gaan weg wanneer die dader nie in die omtrek is nie en neem jou kinders saam met jou.
- Maak seker dat jy noodsaaklike dokumente, soos jou ID, geboortesertifikate, jou mediesefondskaart en jou bankkaart of kredietkaart by jou het.
- Neem foto’s van kneusplekke of beserings.
- Hou alle dreigemente wat jy per WhatsApp, SMS, e-pos, ens. ontvang.
As lede van die SAPD onderneem polisiebeamptes om:
- slagoffers met respek te behandel en hulle waardigheid te beskerm;
- luister na wat slagoffers te sê het;
- nie slagoffers te beledig of te blameer of te insinueer dat dit hul eie skuld was dat hulle mishandel is nie;
- slagoffers met empatie en sorg by te staan;
- slagoffers oor hulle regte en opinies in te lig;
- slagoffers te vra om die voorvalleboek by die polisiestasie te teken;
- ʼn slagoffer se verklaring in privaatheid af te neem en nie in die teenwoordigheid van die mishandelaar of die publiek nie; en
- terugvoer oor die ondersoek te gee.
ONTHOU
- Dit is nie jou fout nie.
- Jy verdien om met respek behandel te word.
- Jy verdien om veilig en vry te voel.
- Jou kinders verdien om gelukkig en veilig te wees.
- Jy is nie alleen nie, daar is mense wat jou kan help.
Daar is hulp
Kontak jou plaaslike polisiestasie SAPD-noodlyn 10111 SAPD
Stop Misdaad 08600 10111
Stop Geslagsgeweld-hulplyn 0800 150 150
Kinderlyn 0800 055 555
SAPD se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings, Hoofkantoor, Pretoria 012 393 2184
Sigbare Polisiëring: Geslagsgebaseerde Geweld en Slagofferbemagtiging 012 421 8000
Bron
https://www.saps.gov.za/resource_centre/publications/pamphlets/domestic_violence_afr.pdf