Deur Emsie Martin
Baie van ons kan nie altyd verstaan waarom daar mense is wat nie van diere hou nie, maar die band tussen mens en dier geniet wêreldwyd aandag vanweë die wedersydse voordele wat dit vir albei partye inhou.
Diere word al hoe meer aangewend as plaasvervangers vir maatskaplike tussenwerking in tehuise vir bejaardes, kinderbewaarskole en hospitale. Troetel- en geselskapdiere dien dus enersyds as voorwerpe vir spanningsontlading en andersyds as skakel met die natuur. Troeteldiere het ʼn belangrike invloed op hoe mense oor hulself en oor die lewe voel. Die emosionele, sosiale en fisiese bydraes en voordele van troetel- en geselskapdiere (veral honde) is onontbeerlik vir mense.
Emosionele voordele
- Die gemoedstoestand van die mens word verbeter. Troeteldiere verlaag die gevoel van eensaamheid en isolasie omdat hulle kameraadskap bied.
- Daar is nou iemand om voor te sorg en om te gee. Baie ouer mense wat alleen bly, sal jou vertel dat hulle troeteldiere die rede is waarom hulle wil leef.
- Mense pas makliker aan na erge siektes en die dood. Kinders praat baie keer met hul troeteldiere vir troos indien ʼn vriend of familielid gesterf het.
- Bedroefde volwassenes wat nie ʼn nabye bron van ondersteuning het nie, beleef minder depressie indien hulle troeteldiere besit.
- Mense is minder angstig en voel veiliger. Troeteldiereienaars wat honde het, is geneig om minder bang en bedreig te voel dat hulle dalk slagoffers van misdaad sal wees.
- Hulle bevorder ontspanning en verminder alledaagse stres. Troeteldiere kan daartoe bydra dat mense meer ontspanne is, sodat hulle konsentrasie nie op probleme en kwellinge toegespits is nie.
- Fisiese kontak met diere is psigologies belangrik vir die mens.
- Om ʼn troeteldier te besit, lewer ʼn groot bydrae om die mens aktief te hou. Die mens kry nie net oefening omdat hy met sy troeteldier stap nie, maar verhoog sy aktiwiteit deur kos vir die troeteldier te gee, hom te borsel en ook met hom te speel.
- Troeteldiere dra by tot beginselvastheid of konsekwentheid. Om te sorg en om te gee vir ʼn troeteldier het ʼn aansienlike uitwerking op ʼn mens se roetine. Dit gee vir die mens ʼn taak om elke dag te verrig en waarna hy ook elke dag kan uitsien.
Sosiale voordele
- Dit skep ʼn gevoel van welstand en nabyheid. Opnames wat gedoen is voordat en nadat ʼn gesin ʼn troeteldier gekry het, wys dat ʼn gesin gelukkiger is nadat die troeteldier by die gesin gevoeg is.
- Gesprekvoering word gestimuleer. Mense by ʼn dierekliniek voer meer geredelik met mekaar ʼn gesprek in die teenwoordigheid van ʼn hond, as wanneer die hond nie daar is nie.
- Inwoners van langtermyn-versorgingsfasiliteite is meer gewillig om aktiwiteitsessies waar ʼn dier teenwoordig is by te woon.
Fisiese voordele
- Honde-eienaars se kanse om langer te leef na ʼn hartaanval is gunstiger.
- Persone met troeteldiere het laer vlakke van cholesterol en trigliseriede, vergeleke met persone wat nie troeteldiere het nie.
- Persone wat strestoetse of fisiese ondersoeke in die teenwoordigheid van ʼn hond ondergaan, se hartspoed en bloeddruk verlaag gedurende die toetse.
- Troeteldiereienaars het soms beter fisiese gesondheid, omdat hulle ʼn behoefte aan oefening het en hul troeteldiere wil versorg.
- Hulle verminder doktersafsprake en geringe gesondheidsprobleme. Die gebruik van voorskrifmiddels en die totale koste vir die pasiënt se versorging in ʼn verpleeginrigting daal wanneer geselskapdiere deel van die behandeling uitmaak.
- Sommige persone wat periodieke epileptiese aanvalle kry, sê dat hulle honde dit aanvoel (voorspel) voor hy dit self besef.
- Daar is diere wat die eienaar bewus maak van episodes of ontwikkelende voorvalle van hipoglukemie (bloedsuikergebrek) en dit gee die eienaar kans om aksie te neem om ʼn koma te voorkom.
Honde en katte is die algemeenste troeteldiere wêreldwyd. Omdat hulle ons lewenskwaliteit verbeter, moet ons ook onthou om aan hulle voedsame, gebalanseerde kos te voorsien vir optimale gesondheid.
“Dogs don’t make judgments about physical appearance or abilities, and they don’t care how big your house is or what you do for a living. They care about the quality of your character and your capacity to love.” – Elizabeth Eiler, Reiki-meester en outeur
“An animal’s eyes have the power to speak a great language.” – Martin Buber, Duitse filosoof
BRONNE:
www.zoonoses.co.za
https://www.grainsa.co.za/dieresiektes-wat-die-mens-aantas-deel-2-mens-dierverhouding-en-voordele-van-diere