Deur Emsie Martin
Die meeste van ons het reeds ’n voorsmakie van hierdie somer se bloedig warm dae gehad en jy dink dis dalk ’n goeie tyd om jou hond van sy baie hare te stroop, net soos ons die lae klere afstroop en in ons swemklere en kortbroeke rondloop. Jou troeteldier kry ook warm, maar maak eers by jou veearts seker of dit die regte ding is om te doen.
Hier volg ʼn paar wenke van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) oor hoe om hierdie somer jou troeteldier teen die hitte te beskerm:
- Indien moontlik, hou jou troeteldiere in die huis wanneer dit te warm raak. As jy nie kan nie, maak seker hulle het genoeg skaduwee waar hulle kan rus.
- As jy voëls, konyne of ander troeteldiere in ’n hok het, skuif die hok in die skaduwee of maak seker dat die hok die hele dag in die skaduwee gaan wees.
- Maak seker jou troeteldier het genoeg skoon water. Gooi ys in die water om dit koud te hou.
- As jou troeteldier nie dadelik eet nie, hou die kos koel en probeer later weer. Moenie die kos in die hitte los nie.
- Moenie jou diere in ’n motorhuis of toe vertrek los nie. En nooit in ’n geparkeerde motor nie, dit kan vinnig warm word en ernstige gevolge hê. Rapporteer dit aan jou naaste DBV indien jy sien iemand het ’n troeteldier in ’n geparkeerde motor gelaat wat in die son staan.
- Mense wat met hul honde stap, moet dit vroegaand of vroegoggend doen. Plaveisel, teer en sypaadjies kan baie warm word en kan hul pote brand. Neem water saam as hulle dalk dors word.
- As jou hond of kat kortasem is en sy tong uithang, neem hom dadelik na ’n koel plek en gee vir hom water om te drink. As jy moet, gooi die water in sy mond.
- As jou hond tekens van oorverhitting toon, vul ’n bad of opblaasswembad met water en sit hulle in die water om af te koel. As jou diere steeds tekens van hitte-uitputting toon, bel jou naaste DBV of veearts.
Simptome van hitte-uitputting
Vinnige asemhaling en pols, kwyling, angs, swakheid, spierspasma en geen koördinasie nie, tong en lippe is rooi of blou, stuiptrekkings, naarheid, ineenstorting en koma.
Noodbehandeling
Indien jou hond simptome van hitte-uitputting toon, moet jy hom onmiddellik na ‘n koel, skaduryke plek skuif. Maak hom nat met koue water. Gebruik ‘n waaier om die hond verder af te koel indien nodig. Gee hom dier koue water om te drink en neem hom so gou as moontlik na ‘n veearts.
Bronne:
https://www.netwerk24.com/ZA/Weslander/Nuus/versorg-troeteldiere-so-in-die-hitte-20181031-2
https://nspca.co.za
https://www.petfinder.com/dogs/dog-care/heat-wave-safety-dog/
https://www.petmd.com/dog/conditions/cardiovascular/c_dg_heat_stroke