Foto:



Voorkom geweld teen vroue en kinders

Vrydag | 10 Julie | 2020

Deur Marli Naidoo

Geweld teen vroue en kinders kom in skokkende getalle in Suid-Afrika voor. Volgens president Cyril Ramaphosa is Covid-19 en geweld teen vroue en kinders die twee pandemies waarteen ons op die oomblik veg. Met die verligting van die inperking vanaf vlak 4 na 3, het hierdie tipe geweld en mishandeling met rasse skrede toegeneem, en 21 vroue en kinders is in die laaste paar weke in Suid-Afrika vermoor.

Dit is moeilik om getalle te voorsien, aangesien dit nie altyd duidelik is of die misdade juis teen die slagoffers gepleeg is omdat hulle vroue is nie. Die feit bly egter staan dat daar groot fout is wanneer die mees kwesbare mense in gemeenskappe nie veilig en beskerm voel in hulle daaglikse omgang nie.

Strenger strafmaatreëls vir oortreders en hulp vir die slagoffer is slegs ʼn deeltjie van die oplossing. Suid-Afrika moet die fokus verskuif na voorkoming deur die oorsprong en strukturele oorsake aan te spreek.

Voorkoming moet vroeg begin deur met jong seuns en dogters te werk en hulle te leer omtrent  respekvolle verhoudings en geslagsgelykheid. Hierdie is ʼn kritiese stadium in hulle lewens wanneer waardes en norme en idees rondom geslagsgelykheid gevorm word. Om met jong mense te werk is een van die beste opsies vir vinniger, volgehoue ​​vordering in die voorkoming en uitwissing van geslagsgebaseerde geweld.

Verder moet daar programme bestaan waar mans en seuns onderrig word om die diepgewortelde ongelykhede en maatskaplike norme te verander wat mans se beheer en mag oor vroue bevorder. ʼn Man moet nie net self vroue goed behandel nie, maar ook opstaan vir vroue en kinders wanneer ander mans hulle in ʼn negatiewe lig sien, beledig of sleg behandel.

Kinders moet van jongs af geleer word wat hulle regte is, wat dit beteken om kinders te beskerm en wat alles onder kindermishandeling val.

Vroue moet geleer word dat hulle regte het en dat hulle net so belangrik soos mans is. Hulle moet hulle waarde verstaan en besef, en weet dat dit nie aanvaarbaar is om mishandel te word nie. Hulle moet ook toegerus word om hulleself te kan beskerm indien dit nodig is en weet hoe en waar om hulp te kry.

Bewusmaking en mobilisering van die gemeenskap, wat byvoorbeeld deur die gebruik van media en sosiale media bewerkstellig kan word, is ‘n ander belangrike komponent van ‘n effektiewe voorkomingstrategie. Versprei positiewe boodskappe deur ʼn vreedsame protes te organiseer, en daag mense op sosiale media uit om hulle uitkyk en houding te verander.

Opleiding is voorkoming en dit begin by die huis. Maak seker dat jy jou kinders die regte lesse leer en jou gesin behandel soos wat jy wil hê almal in die wêreld mekaar moet behandel.

 

Bronne:

UN Women: https://www.unwomen.org/en/what-we-do/ending-violence-against-women/prevention

UNICEF: https://www.unicef-irc.org/article/983-the-importance-of-integrating-efforts-to-prevent-violence-against-women-and-children.html

CGTN: https://news.cgtn.com/news/2020-06-20/South-Africa-s-femicide-rate-spikes-as-coronavirus-lockdown-lifts-RskMmKKcus/index.html

  •  
  •  
  •  
  •  
Besoek webwerf