Wanneer dit kom by die hantering van jou kind se gedrag, blyk nie een van jou pogings effektief te wees nie. Dit frustreer jou en jy voel raadop. Daar is egter hoop. Die redes waarom dissipline nie werk nie kan dalk een van die volgende insluit:
Jy gee te gou op: By die implementering van ʼn effektiewe dissiplinestrategie moet onthou word dat dinge soms erger kan word voordat dit beter word. As jou kind jou kan oortuig om vir hom ʼn speelding of lekkerny te koop deur ʼn woede-uitbarsting in die winkel te kry en daardie strategie eensklaps nie meer werk nie, kan dit jou kind dalk harder laat skree en huil omdat hy só probeer om die uitkoms te verander. Gee ʼn nuwe tegniek tyd om te werk. Gedrag neem tyd om aan te leer en ook om af te leer.
Swak uitvoering: Kinders sowel as ouers het tyd nodig om nuwe gedrag aan te leer. Verwag dat jy foute sal maak met die implementering van ʼn nuwe strategie en wees geduldig en vergewensgesind met jouself.
Inkonsekwentheid: Ouers implementeer dikwels ʼn goeie strategie maar dis oneffektief omdat hulle dit nie konsekwent toepas nie. Kinders het herhaling, voorspelbaarheid en konsekwentheid nodig om te leer en veilig te voel. Konsekwentheid leer kinders waar die grense is en laat hulle toe om die gevolge van hul keuses te verwag. Onthou verder dat dissipline bedoel is om jou kind te leer, anders as swaar strawwe wat kinders net leer om ongewenste gedrag weg te steek.
Vasgeval in ‘n magstryd: As jou kind nooit saamstem met wat jy sê nie − ongeag wat dit is − kan dit beteken julle is in ʼn magstryd vasgevang. Terwyl jou eerste instink kan wees om strenger op te tree, moet jy versigtig te werk gaan. Kinders wat weier om saam te werk en uitdagend en vyandig teenoor maats, ouers, onderwysers en ander gesagsfigure optree, reageer selde gunstig op mikrobestuur of dwang.
Jy volg nie op nie: Sorg dat jy elke woord bedoel wat jy sê. As jy jou seun belowe hy kan na aandete met Legos speel, moet hy daarop kan reken dat, tensy iets buitengewoons gebeur, hy wel na aandete daarmee kan speel. Kinders moet kan vertrou op wat jy sê as jy dissipline doeltreffend wil toepas.
Dr. Wietske Boon, ʼn spelterapeut van Centurion, sê dat wanneer dit by dissipline kom daar (soos by baie ander opvoedingstake) nie ʼn een-grootte-pas-almal-oplossing bestaan nie. Elke kind verskil, julle gesinsdinamika is uniek en ouers se sienings en persoonlikhede verskil – dít alles bepaal die dissiplinestyl wat vir júlle gaan werk.
Maar ongeag die dissiplinestyl, is daar tog ʼn paar punte wat toegepas behoort te word om effektiewe dissipline te verseker:
Let op jóú gedrag. As jou gedrag nie na wense is nie, kan jy tog nie van jou kind verwag om positiewe gedrag te openbaar nie. Wanneer jy dissiplineer, moet jy kalm maar ferm optree wanneer jy jou kind vermaan.
Dissiplineer met liefde. Dissipline is nie ʼn geleentheid om te intimideer of gesag af te dwing nie. Dissipline word uit liefde gedoen om jou kinders te leer onderskei tussen reg en verkeerd. Hulle moet leer besef dat hulle gedrag gevolge inhou. Wanneer jy dissipline toepas, bespreek met jou kinders waarom dit nodig is om hulle te dissiplineer, en dat jy vir hulle lief is.
Werk saam as ʼn span. Dit het geen nut wanneer een ouer altyd streng is terwyl die kinders met moord wegkom by die ander ouer nie. Ouers moet saam besluit op ʼn gepaste dissiplinestyl wat vir die gesin sal werk en dit konsekwent toepas. Waak ook daarteen om toe te laat dat familie of vriende inmeng met julle dissipline.
Kommunikasie tussen ouers is uiters belangrik. Wanneer een ouer nie saamstem met ʼn ander ouer se optrede nie, praat daaroor in privaatheid. Dis vir ʼn kind baie ontstellend as ouers in hulle teenwoordigheid stry. Boonop word die aandag van die kind se gedrag afgelei en dis vir die kind verwarrend wanneer ouers verskillende verwagtinge stel.
Kommunikeer met jou kind. Bespreek jou kind se gedrag met hom. Luister hoe hý voel oor die situasie. Daar is dalk ʼn rede vir sy gedrag en moontlik is dit iets waaraan aandag gegee behoort te word.
Stel duidelike grense. Jy kan tog nie ʼn kind dissiplineer wanneer daar nie duidelike reëls is nie. Stel basiese huisreëls op. Verduidelik vir jou kinders watter gevolge daar gaan wees as hulle nie die reëls nakom nie, en hou daarby.
Kies ʼn gepaste dissiplinestyl. Oorweeg die verskillende dissiplinestyle en kies een wat vir júlle gaan werk. Soms gaan dit vir ʼn ruk goed, maar dan word dit weer nodig om iets anders te probeer om aan te pas by jou kind se persoonlikheid en ouderdom.
Ouderdomsgepaste dissipline. Maak seker dat jou verwagtinge en reëls redelik is en dat jou kinders verstaan wat van hulle verwag word. Maak ook seker dat jou dissiplinestyl gepas is vir jou kind se ouderdom.
Waarsku twee keer en tree dan op. Dit is nodig om ʼn kind te waarsku dat sy gedrag nie aanvaarbaar is nie, maar indien hy daarmee voortgaan, moet jy optree.
Wees konsekwent. Kinders weet wanneer hulle ʼn kans kan waag, byvoorbeeld wanneer jy moeg of te besig is en sy gedrag maar gaan oorsien. Kinders het egter struktuur en roetine nodig om te floreer. Hulle móét weet dat jou “nee” werklik nee is.
Is dit die moeite werd? Ons kan nie kinders in boksies plaas nie en ons moet hulle ruimte gee om te ontwikkel. Besluit of dít waaroor jy raas regtig die moeite werd en nodig is.
Gebruik opbouende woorde. Waak daarteen om jou kinders te verkleineer of te verneder. Fokus op die gedrag en verduidelik waarom dit afgekeur word. Help hulle met alternatiewe metodes om van byvoorbeeld woede of frustrasie ontslae te raak of hoe om ʼn spesifieke probleemsituasie positief te benader.