Deur Anja van den Berg
Skei is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. Die emosionele en finansiële nadraai van die beëindiging van ʼn huwelik kan geweldig en traumaties wees vir al die betrokkenes.
“Die algemene gevolgtrekking van alle studies oor die voorkoming van verhoudingverbrokkeling en die oorsake van egskeiding is dat ʼn konstellasie van faktore, en nie een enkele oorsaak nie, normaalweg vir die verbrokkeling van ʼn huweliksverhouding verantwoordelik is,” sê Bertus Preller, familiereg- en egskeidingsprokureur by Bertus Preller & Associates Inc. in Kaapstad.
Omdat verhoudings dinamies is en gesinsomstandighede gedurende die verloop van ʼn huwelik verander (byvoorbeeld, die geboorte van ʼn kind, die hantering van tieners, verandering van werk, siekte van ʼn lid van die gesin), kan huweliksmaats dwarsdeur die verskillende stadia van die huweliks- en gesinslewe net meer baat by voortgesette beradingsopsies.
Ek dink egskeiding moet die laaste opsie wees,” sê dr. Eris Huemer Winans, medestigter van Divorce Doctor, ʼn diens wat paartjies deur elke aspek van hul egskeidings help, en medeouteur van Break Up Emergency: A Guide to Transform Your Break Up Into a Break Through. “Met dit gesê, daar is gevalle waar egskeiding regtig die beste opsie vir almal is, met inbegrip van kinders wat betrokke is.”
Daar is geen vaste reëls nie, maar as jy jou in enigeen van die volgende situasies bevind, is dit dalk tyd om die huwelik te beëindig:
Dobbel. Seks. Alkohol. Dwelms. Tensy hy of sy werklik gereed is om hulp te kry of reeds sterk aan’t herstel is ─ en tot ʼn geverifieerde herstelprogram verbind is ─ is dit gewoonlik die beste om pad te gee. Om met ʼn verslaafde getroud te wees, kan lei tot regs- en finansiële probleme, en ook tot emosionele mishandeling, sê Huemer Winans. Om saam met ʼn verslaafde in die huis groot te word, kan ook ernstige skade berokken aan kinders, wat dalk verkeerdelik glo dat hulle vir die ouer se ongewensde gedrag verantwoordelik is.”
Misbruikende verhoudings kry meesal nie end nie en die siklus van fisiese of sielkundige geweld bly homself herhaal, verduidelik Huemer Winans. “Selfs al is jy nie in fisiese gevaar nie, kan verbale misbruik uiters skadelik wees omdat dit ʼn ernstige tol van jou selfrespek en geestelike en emosionele welstand kan eis.” Verder loop kinders wat woon in ʼn huis waar misbruik plaasvind ook gevaar, selfs al is dit nie hulle wat fisies skade ly nie.
Ontrouheid hoef nie ʼn huwelik outomaties te beëindig nie, sê dr. Rachel A Sussman, ʼn psigoterapeut wat in verhoudings spesialiseer en die outeur van The Breakup Bible: The Smart Woman’s Guide to Healing from a Breakup or Divorce. Die detail maak baie saak: was dit ʼn eennag-affaire of ʼn geheime liefdesverhouding wat jare geduur het? Was dit suiwer fisies, of het een van julle ʼn intieme band met ʼn nuwe persoon gesmee?” Net so belangrik ─ of dalk meer ─ is hoe die vennoot wat gedwaal het die nadraai benader, verduidelik Sussman. By die evaluering van ontrouheid as die oorsaak van ‘n egskeiding, raai Huemer Winans aan dat mens na die volgende ses items kyk: die persoon wat gekul het, moet berou toon, verantwoordelikheid aanvaar, die medepligtige los, versekerings gee, verantwoordelik optree en gewillig wees om die huwelik te herstel. As daardie kontrolelys nie goed lyk nie, is dit waarskynlik tyd om aan te beweeg.”
Bronne
News24: http://voices.news24.com/bertus-preller/2012/01/top-10-reasons-for-divorce-in-south-africa/
Bertus Preller & Associates: https://divorceattorneys.wordpress.com/2012/01/15/the-top-10-reasons-for-divorce-in-south-africa/
Prevention.com: https://www.prevention.com/sex/6-times-divorce-is-the-answer
Huffington Post: http://www.huffingtonpost.co.za/entry/10-questions-to-ask-yourself-before-you-get-a-divorce_us_55f1b1c0e4b03784e2784624