Deur Marli Naidoo
Ons sal nie vir ons kinders ʼn klip gee as hulle brood vra nie. Ongelukkig is daar wel ouers wat presies dít doen. Kindermishandeling kom in alle gemeenskappe voor, en kinders haat nie altyd die misbruiker nie. Die skuldige persoon is in die meeste gevalle iemand wat die kind of sy familie ken.
Kindermishandeling is enige interaksie of gebrek aan interaksie deur ʼn ouer of versorger wat lei tot nietoevallige skade aan die kind se fisiese toestand of ontwikkeling. Dit sluit nie net fisiese skade in nie, maar ook emosionele en seksuele mishandeling, en verwaarlosing.
Seksuele mishandeling
Seksuele mishandeling vind plaas wanneer iemand ʼn kind dwing of uitlok om aan seksuele aktiwiteite deel te neem. Dit maak nie saak of die kind toestem daartoe of nie, dit is steeds mishandeling. Dit begin by die afloer van ʼn kind tot veel meer ernstige seksuele aktiwiteite.
Fisiese mishandeling is enige daad wat lei tot die besering of dood van ‘n kind. Dit kan kneusplekke en hale, snye en skuurwonde, breuke of verstuitings, vergiftiging, brandwonde en enige herhaalde besering insluit waarvoor daar nie ʼn aanvaarbare verduideliking is nie.
Verwaarlosing kom voor wanneer daar doelbewus nie aan die fisiese behoeftes van die kind voorsien word nie. Dit sluit die voorsiening van voedsel, warmte, skuiling en beskerming teen gevaar in, asook die versuim om mediese sorg te kry, of om voorsiening te maak vir die opvoeding van die kind. Kinders mag ook nie alleen by die huis gelos word nie.
Emosionele en sielkundige mishandeling is ‘n patroon wat bestaan wat die kind se emosionele ontwikkeling of gevoel van selfwaarde beskadig of beperk. Dit kom in die vorm van kritiek, dreigemente of verwerping voor. Dit word ook as mishandeling gesien wanneer ʼn kind geїgnoreer of geїsoleer word, hy tot die volwassene se voordeel gebruik word, hy gevloek word, of daar vir hom gejok word.
Kinderuitbuiting is die blootstelling van ‘n kind aan kinderarbeid, slawerny, seksuele uitbuiting, kinderpornografie, mensehandel, en die gedwonge verwydering van liggaamsdele.
Geweld is enige aktiwiteit deur ‘n persoon, organisasie of konteks wat voorkom dat iemand sy menseregte uitoefen. Dit kan verbaal, fisies, emosioneel of polities wees, of kan gewapende konflik insluit.
Dit is ons almal se verantwoordelik om as ʼn gemeenskap te sorg vir die veiligheid van ons kinders. Indien jy vermoed dat ʼn kind mishandel word, is dit belangrik dat jy ʼn welsynswerker, die polisie of Childline kontak. Moenie self die oortreder konfronteer nie.
Foto krediet:
Oops! We could not locate your form.