Deur Melodie Veldhuizen
In die verlede moes voornemende kopers en huurders van ʼn eiendom tevrede wees met wat hulle sien wanneer hulle ʼn huis wou koop of huur. Hulle was aangewese op die eerlikheid van die verkoper en die eiendomsagent en moes te goedertrou aanvaar daar is geen verskuilde foute voor hulle die kontrak teken nie, net om wanneer hul uiteindelik die woonplek betrek tot die skokkende ontdekking te kom dat die dak lek of dat daar ʼn plaag van termiete is wat die houtwerk beskadig. Die goeie nuus is dat jy nou ʼn volledige valuering deur ʼn huisinspekteur kan laat doen om ʼn ingeligte besluit te kan neem.
Wat behels ʼn huis- of eiendomsinspeksie ?
Dit is die valuering van ʼn bestaande eiendom deur ʼn gekwalifiseerde huisinspekteur met die doel om ʼn verslag aan die voornemende koper of huurder te voorsien oor die toestand van die eiendom. Die inspeksie is ʼn gedetailleerde beskrywing van die fisiese toestand van die eiendom met die doel om kopers of verkopers in te lig oor wat herstel of vervang moet word.
Aan watter vereistes moet huis- en/of eiendomsinspekteurs voldoen?
Hulle moet aan alle Covid-19-veiligheidsregulasies voldoen. Hulle moet opgelei wees deur en geregistreer wees by die Suid-Afrikaanse Akademie vir die Opleiding van Huisinspekteurs (South African Home Inspection Training Academy, (SAHITA). Hulle moet ook geregistreer wees by die Nasionale Raad vir Eiendomspraktisyns (National Property Practitioners Council) en drie jaar praktiese ervaring hê om aan die vereistes van die Wet op Eiendomspraktisyns (Wet 22 van 2019) te voldoen .
Waar kan ʼn mens gaan soek vir ʼn huisinspekteur?
Huisinspekteurs adverteer so wyd as moontlik op alle vorme van sosiale media (soos Facebook, Instagram, LinkedIn) en massamedia soos plaaslike koerante, JunkMail en pamflette).
Wie behoort ʼn huis- of eiendomsinspeksie te laat doen?
Voornemende verkopers van ʼn huis of ander eiendom; eiendomsagente of verhuringsagente wat betrokke by die verkoop of verhuring van eiendomme; eienaars of verhuurders van eiendomme; en beheerliggaambestuurslede van deeltiteleiendomme
Hoe lank duur ʼn inspeksie?
Dit hang af van die grootte en toestand van die eiendom en van die kliënt se vereistes. Die kliënt kan byvoorbeeld slegs die inspeksie van ʼn gedeelte van die eiendom (soos die dak) versoek. Die tydsduur vir die inspeksie van ʼn gemiddelde grootte Suid-Afrikaanse huis is twee tot drie ure. Huisinspekteurs behoort ʼn voltooide inspeksieverslag binne een dag na die afhandeling van die inspeksie te verskaf, mits die kliënt die rekening ten volle vereffen het.
Wat word deur ʼn inspeksie gedek?
Dit verskil van inspekteur tot inspekteur, en van die behoefte van die kliënt, maar kan een of meer van die volgende insluit:
– dakbedekking, -waterdigting en -struktuur
– die toestand van die mure, deure, vensters, ingeboude kaste, badkamers en toilette en ander binnenshuise installasies
– waargenome defekte in die elektriese, loodgieters- en dreineringstelsels
– waargenome defekte in die geïnstalleerde brand-, veiligheids- en sekuriteitstelsels
– stormwaterbestuurskwessies
–die toestand van grens- en stutmure en tuinstrukture
–swembad en plaveisel
– voldoening aan bouregulasies en -standaarde
Hoe word ʼn inspeksie aangevra?
Na gelang van die werkswyse van die huis- of eiendomsinspekteur, kan ʼn kwotasie aanlyn, per e-pos of telefonies aangevra word.
Watter tipes inspeksies word normaalweg gedoen?
Dit hang af van die dienste wat die inspekteur bied of die behoefte van die kliënt.
Omvattende inspeksie: Dit sluit alle toeganklike areas van die eiendom en strukture in en die toestand van alle komponente word gedokumenteer. Aantekeninge van alle defekte (groot en klein) word gemaak, tesame met ʼn valuering van die aard van die defek, en waar dit nuttig kan wees, word foto’s geneem. Kosteberamings vir herstelwerk word gegee.
Noodsaaklike inspeksie: Dit is dieselfde as omvattende inspeksies, maar daar word net oor noodsaaklike en/of ernstige defekte verslag gelewer. Ernstige defekte is dít wat te make het met die struktuur en die funksionaliteit van kritiese komponente van die eiendom wat veiligheids- en gesondheidsgevare inhou.
Eiendomsrisiko-valueringsinspeksie: Dit is ʼn laekoste-inspeksie wat deur ʼn spesifieke maatskappy ontwikkel is vir die versekeringsbedryf en word aan kliënte gelewer wat wil seker maak dat dele van die eiendom aan wetlike vereistes voldoen en veilig is om te verseker dat in die geval van ʼn huiseienaarsversekeringeis die versekeraar die eis sal uitbetaal.
Defekte-inspeksie (snag): Hierdie verslag word deur kliënte aangevra wanneer ʼn nuutgeboude huis deur die bouer of ontwikkelaar aan hulle oorhandig word. Alle defekte, groot en klein, word gedokumenteer en ʼn kontrolelys word voorsien sodat die bouer of kontrakteur alle defekte kan regstel voordat die eiendom oorhandigg word.
Vorderingsinspeksie van nuwe eiendom/geboue: Dit is ʼn reeks gehaltebeheerinspeksies wat op verskillende stadia van die bouproses uitgevoer word.
IAP-inspeksie (instandhoudingsaksieplan): Dit is ʼn tipe inspeksie wat uitgevoer word om die beheerliggaambestuurslede van deeltiteleiendomme in staat te stel om hul wetlike verpligtinge betreffende die 10-jaar-instandhoudingsplan na te kom.
Wat is die voordele van ʼn inspeksie vir die voornemende koper?
ʼn Mens se huis is jou grootste belegging, daarom sal jy so veel moontlik wil weet oor die toestand van die eiendom wat jy wil koop of huur. Dit stel jou in staat om ʼn ingeligte besluit te neem betreffende die koop van die eiendom. ʼn Inspeksie sal jou help om vir ʼn beter prys en vir moontlike veranderinge en verbeteringe te onderhandel . Dit kan jou ook help om ʼn rampspoedige aankope te vermy.
Wat is die voordele van ʼn inspeksie die voornemende verkoper?
Dit bied gemoedsrus aan die verkoper dat die verkooptransaksie deursigtig is omdat die verslag die voornemende koper ten volle inlig oor die ware toestand van die eiendom. Dit skakel die moontlikheid uit van onaangename en peperduur regskoste nadat die transaksie beklink is. Die inspeksieverslag maak jou bedag op foute wat die voornemende koper moontlik in elk geval sal raaksien en uitwys. Sodoende kan jy vroegtydig jou eiendom opknap en herstel en ʼn beter verkoopprys beding.
Wat is die voordele van ʼn inspeksie vir eiendomsagente?
Twispunte betreffende defekte kan groot vertragings in die eiendomsoordragproses tot gevolg hê. Dit kan groot spanning by al die betrokke partye veroorsaak. Kopers en verkopers raak al hoe meer bewus van hul regte en vereis deursigtigheid betreffende die toestand en prys van eiendom. ʼn Inspeksieverslag bewys dat die eiendomsagent onpartydig en professioneel is en aan die wetlike vereistes van die verbruikersbeskermingsvereistes van die Wet op Eiendomspraktisyns voldoen. Dit strek tot voordeel van die besigheidsreputasie van die eiendomsagent.
Is dit moontlik om ʼn inspeksie te laat doen voordat jy ʼn Aanbod Om te Koop (ATK) onderteken?
Die meeste voornemende kopers verkies om hul aanbod om te koop onderworpe te maak aan ʼn bevredigende huis- of eiendomsinspeksieverslag. Dit beteken dat die verkoper hierdie voorwaardes in die ATK aanvaar en dat hy nie die huis aan iemand anders sal verkoop alvorens die voornemende koper die inspeksieverslag ontvang het en die aanbod bevestig of kanselleer nie. Sommige kopers verkies egter om eers ʼn inspeksieverslag te kry voordat hulle ʼn aanbod maak.
Wat is die koste verbonde aan ʼn inspeksie?
Die bedrag word bepaal deur die aantal vertrekke en die tipe inspeksie wat verlang word. Dit kan wissel vanaf ongeveer R1 800 tot R5 000. ʼn Kwotasie plaas die kliënt onder geen verpligting om die werk te laat doen nie.
Bronne
House Check. https://www.housecheck.co.za/home- inspeksie-services/
Divan du Preez. 082 318 7606 OF 066 224 8984
Oops! We could not locate your form.