Deur Wilma Bedford
Hoeveel keer het jy al iets op jou rekenaar gesoek of bloot net na jou sosiale media soos Facebook gekyk en ʼn stortvloed advertensies daarby gekry? Jy onthou dat jy vroeër in die week gesoek het na onderdele vir jou motor maar nou kry jy advertensies van motors en motorhandelaars van oral oor. Jy het op ʼn spesifieke verslankingsadvertensie gekliek uit nuuskierigheid en nou word jy oorval met soortgelyke advertensies. Hoe gebeur dit? Jy word opgespoor (tracked) deur digitale spoorsnyers (trackers).
Hoe werk spoorsnyers?
Wanneer jy ʼn webtuiste besoek, rig jou blaaier (browser) ʼn versoek vir toegang tot die tuiste. In die onsigbare digitale agtergrond is daar advertensiekodes en onsigbare spoorsnyers wat weer versoeke rig aan ʼn onsigbare derdeparty. Elke versoek bevat inligting oor jou blaaier (browser), oor jou, oor jou tydsone (met ander woorde, waar jy woon), jou blaaie-instellings (settings) tot die weergawe van die sagteware wat op jou rekenaar geïnstalleer is.
Van hierdie inligting is noodsaaklik vir toegang tot webtuistes, maar daar is derde partye wat ook die inligting bekom.
Dit mag lyk asof die inligting wat versamel word, onbelangrik is, maar wanneer die inligting bymekaargevoeg word, word ʼn profiel van jou getrek: van jou soektoggedrag, jou inkomsteklas, jou geletterdheidsvlak, tot by jou geloofs- en politieke affiliasies. Solank hierdie inligting terug na jou toe herlei kan word, kan jou aanlyn aktiwiteit aangeteken word. Hoe word dit met jou verbind? Deur koekies en vingerafdruksoektogte.
Hoe werk koekies?
Hulle werk soos ʼn boekmerker, hulle hou jou plek op ʼn webbladsy, onthou wat jy in jou aanlyn inkoopmandjie geplaas het jou aanlyn rekening-inligting, asook waar en wat jy gesoek of geblaai het. Koekies werk soos ʼn GPS; jy word akkuraat nagespoor totdat jy die koekies versper.
Wat is jou digitale vingerafdruk?
Dit is inligting wat uniek is aan die gebruiker, sy blaaier en sy soort hardeware. Dit is inligting wat jou blaaier stuur om toegang tot ʼn webtuiste te verkry, maar bevat ook data soos jou skermresolusie, lettertipes, blaaier-instellings, hardeware-spesifikasies wat, wanneer saamgestel is, ʼn prentjie vorm van jou rekenaartoestel. Hierdie inligtingversameling kan nie soos koekies versper word nie, is stellings wat moeilik is om te verander en onmoontlik om uit te wis.
Webbakens en Opsporingspieksels (Web beacons and Tracking Pixels)
ʼn Webbaken is ʼn klein merker wat op ʼn webbladsy geplaas word om vas te stel hoe die inhoud van die blad gebruik word. Dit is gewoonlik ʼn deursigtige 1 x 1 pieksel-prentjie wat in die webbladsy se kode ingebou is en deur ʼn versoek van jou blaaier afgelaai word. Dit bevat inligting oor jou IP-adres en tyd van besoek. Hierdie inligting word gebruik in e-posbemarking.
Hoe beskerm jy jouself?
Jy kan JavaScript deaktiveer, maar dan beperk jy jou internettoegang tot baie webtuistes, aanlyn vorms om in te vul, aankope te doen of video’s te kyk. Die meeste spoorsnyers gebruik JavaScript en sal dus nie veel inligting om jou vingerafdruk kan versamel as jy jou JavaScript versper nie.
Jy kan spesifieke beskerming installeer, maar onthou dat jou beskerming deel word van jou vingerafdruk en selfs jou volle identifikasie kan bekend maak.
Jou beste opsie is om ʼn betroubare beskermer af te laai wat die meeste van die domeine (webtuistes) blok wat vingerafdrukke versamel. Lees resensies oor beskermers soos Tor Browser, Privacy Blacks Badger, Disconnect, NoScript, Cover Your Tracks.
Spoorsnyerblokkeerders het toegang en verwysings na die netwerk van derde party spoorsnyermeganismes en verhoed derde partye se pogings om advertensies te laai en maatskappye om jou blaaiervingerafdruk te lees.
Verander jou blaaierstellings
Blaaiers soos Chrome, Firefox en Safari het stellings wat jou toelaat om sporing af te skakel. Gaan na die verstekstellings (default settings) en kliek op die relevante knoppie.
Gebruik ʼn vingerafdruk-bestande blaaier
Van die nuwer blaaiers soos Brave en Tor Browser poog om jou vingerafdruk minder uniek en minder konsekwent te maak sodat spoorsnyers dit moeiliker vind om jou beweging op die web te volg of dit só algemeen te maak (Brave) dat jy nie identifiseerbaar is nie.
Bronne:
What is online tracking and how do websites track you?
https://koofr.eu/blog/posts/what-is-online-tracking-and-how-do-websites-track-you
What is web tracking and how to avoid being tracked online
Nwachukwu Glory March 24, 2022
https://privacysavvy.com/security/safe-browsing/web-tracking/
The Quiet Way Advertisers Are Tracking Your Browsing
Matt Burgess FEB 26, 2022
https://www.wired.com/story/browser-fingerprinting-tracking-explained/
Oops! We could not locate your form.