Deur Emsie Martin
Jy het onlangs begin werk en kon ook ʼn motor koop, maar weet jy hoe om ʼn band om te ruil? En vir vroue is dit ʼn nog groter probleem omrede hulle dalk nie die sterk genoeg is om ʼn wiel onder die voertuig uit te kry, spaarwiel uit die kattebak te kry of die moere los te draai nie.
Om ʼn band om te ruil klink soos iets wat almal behoort te kan doen maar baie mans en vroue maak steeds staat op barmhartige samaritane of ʼn padnooddiens om te kom help – soms met rampspoedige gevolge. Dis absoluut noodsaaklik, moontlik lewensbelangrik, om te weet hoe om jouself weer terug op die pad te kry indien dit nodig is.
ʼn Meningsopname wat deur Kwik Fit in die VK gedoen is, het bevind dat 38% van motorbestuurders tussen 18 en 34 jaar oud nie ʼn band kan omruil nie. ʼn Ander opname het onthul dat 52% van mans erken dat hulle sal verbyhou as hulle ʼn vrou teëkom wat met ‘n pap wiel gestrand is – afgesien van die feit dat hulle sal skuldig voel daaroor. Die opname het ook bevind dat jonger mans meer huiwerig is om te stop omdat hulle te min van basiese voertuiginstandhouding weet. Die situasie in Suid-Afrika kan moontlik baie dieselfde wees.
“Dit maak dit net meer noodsaaklik vir alle padgebruikers om te weet hoe om ʼn band om te ruil. Jy kan nie altyd wag vir iemand om jou te help nie omdat dit jou kwesbaar maak vir misdade soos rowe, kapings of erger. Dis eintlik baie eenvoudig om ʼn band te ruil en neem slegs ʼn paar minute met genoegsame kennis en die regte gereedskap,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.
Virseker bied die volgende riglyne om ʼn band in ʼn japtrap om te ruil:
Wees voorbereid
Maak seker dat jy nooddienste en jou versekeraar se kontaknommers byderhand het. Jy moet ook ʼn veiligheidsdriehoek, flitslig, basiese gereedskapstel, draagbare domkrag en ʼn opgepompte spaarwiel gereed hê, sowel as ʼn gepaste wielsleutel om die wiele van jou voertuig los en weer vas te draai. Dis ook slim om handskoene en ʼn reflekterende baadjie byderhand te hou.
Stop slim
Wanneer ʼn wiel pap word of bars, probeer om in ʼn veilige area te stop waar jy ver van bewegende voertuie en duidelik sigbaar is vir aankomende verkeer. Probeer om op gelyke grond te parkeer. Indien jy teen ʼn op- of afdraande gestrand is, draai die wiele na die sypaadjie of ander voorwerp wat die voertuig kan stuit om te verhoed dat dit wegrol. Aktiveer die handrem, sluit die voertuig af en sit dit in rat. Outomatiese voertuie kan in Drive gelaat word.
Wees sigbaar
Haal jou nooddriehoek uit en plaas dit sowat 45 tot 50 meter agter jou voertuig om ander bestuurders te waarsku en hulle genoeg tyd te gee om te reageer. Maak seker dat jy gereeld om jou rondkyk vir verdagte individue of ander moontlike bedreigings.
Kry die domkrag op sy plek
Plaas die domkrag onder die voertuig. Hoewel dit wissel, het die meeste voertuie domkragpunte waar die onderstel sterk genoeg is om die gewig te dra onder aan die sykant van die voertuig − net agter die voorwiele en net voor die agterwiele. Maak seker dat die domkrag op soliede, harde grond is wat nie sal meegee nie. Verstel die domkrag só dat dit aan die onderkant van die voertuig sowel as aan die grond raak, m.a.w. net voordat dit die voertuig sal begin oplig. Moet nog nie die voertuig begin opdomkrag nie – die domkrag dien op hierdie stadium net as ʼn noodstut.
Maak los, maar net genoeg
Verwyder die doppies wat die wielmoere beskerm en maak die moere los. Die meeste wielmoere draai antikloksgewys los, tensy hulle ʼn “L” op het en kloksgewys losdraai. Dit kan dalk aansienlike inspanning verg, veral vir ʼn vrou. Moenie die wielmoere heeltemal losmaak nie – net tot op die punt waar jy hulle gemaklik met een hand en die wielsleutel kan draai.
Domkrag op
Sodra die wielmoere los genoeg is, kan jy die voertuig begin opdomkrag – nie te hoog nie, want hoe hoër jy dit lig, hoe hoër sal jy die spaarwiel moet optel om dit in posisie te kry. ʼn Een- of tweevingerspasie tussen die ou band en die grond behoort genoeg te wees.
Wielmoere uit
Draai die wielmoere heeltemal los en haal die ou wiel af. Maak seker dat jy die moere op ʼn veilige, skoon plek hou.
Vervang
Kry die spaarwiel – dit sal waarskynlik in die kattebak of onder aan die agterkant van die voertuig vas wees met ʼn maklik verwyderbare skroef, slot of ketting – en sit dit waar die ou wiel was. Daar sal waarskynlik merkies op die band self of op die wiel wees om te wys watter kant na die voertuig toe en watter weg van die voertuig af moet wys, en/of in watter rigting die wiel moet draai sodra dit vas is.
Maak liggies, dan stywer vas
Maak die moere eers met jou hand vas in ʼn oorkruispatroon, net om seker te maak dat die wiel gelyk vastrek. Maak die moere so vas as wat jy kan met die wielsleutel en een hand en laat sak dan die voertuig totdat die wiele aan die grond raak. Hou die gewig steeds gedeeltelik op die domkrag. Draai die moere dan in ʼn oorkruispatroon stywer vas met die wielsleutel.
Laat sak en draai styf vas
Laat sak die voertuig tot op die grond, maar hou die domkrag net as stut in posisie. Draai die moere so styf as moontlik vas – staan op die wielsleutel indien jy moet. Sodra die moere stewig vas is, laat sak die voertuig heeltemal en verwyder die domkrag. Moenie vergeet om weer die doppies oor die wielmoere te sit (as die spaarwiel dit toelaat) nie. Bêre die spaarwiel en gereedskap.
Wees rustig
Ry eers stadig om seker te maak dat alles mooi vas is voordat jy begin versnel. Hou by die spoedbeperking (gewoonlik 80 km/h) van die noodwiel.
Herstel
Laat die ou band so gou moontlik herstel of vervang. Kleiner lekplekke op die loopvlak wat kontak maak met die pad is gewoonlik maklik om te herstel, maar skade aan die wande van die band beteken in die meeste gevalle dat jy ʼn nuwe band moet aanskaf.
“Om ʼn band te kan omruil is nietemin ʼn vaardigheid wat jou bemagtig, uit ʼn lelike penarie kan help of selfs jou lewe kan red.”
Indien hierdie wenke vir jou ingewikkeld klink, doen ʼn proeflopie by die huis terwyl ʼn kundige leiding gee; só sal jy nie heeltemal hulpeloos voel nie.
As jy sukkel om ʼn band om te ruil, moenie nog sukkel met jou beroep ook nie. Besoek Solidariteit Beroepsgilde wat jou nie net sterk maak in jou beroep nie, maar ook ʼn gemeenskap is waar jy tuis voel, saam werk en saam leer. Dit is ʼn gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, vir jongmense loopbaangeleenthede te skep, as waghond toesig te hou oor die beroep, en met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom. Besoek gerus https://gildes.solidariteit.co.za/ vir meer inligting.
Bronne
https://www.virseker.co.za/dagboek/perskamer/leer-hoe-om-jou-band-te-ruil-met-die-13-stappe/
https://uk.motor1.com/news/265152/two-five-youngsters-change-wheel/
Oops! We could not locate your form.