Deur Nico Strydom
Die reënseisoen begin binnekort oor groot dele van Suid-Afrika en dit kan huiseienaars duur te staan kom indien hulle nie vroegtydig die nodige voorbereidings tref nie.
Volgens Virseker styg huiseienaarseise in die reënseisoen, van Oktober tot Maart, tot ʼn allemintige 197% van die res van die jaar se gemiddelde – iets wat die geval was in 2018, 2019 en 2020 – en word hoofsaaklik deur weerverwante faktore veroorsaak.
Huiseienaars en huurders het dus nou die ideale geleentheid om hul huise na te gaan, die nodige aanpassings te maak en herstelwerk te doen om ʼn duur ramp te voorkom.
“Water-, hael- en weerligskade of bome wat val is tipies die grootste sondebokke,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Iets wat kommerwekkend is, is dat dit in ʼn groot aantal gevalle deur goeie, proaktiewe inspeksies en -instandhouding voorkom kon word.”
As jou huis die vorige reënseisoen goed deurstaan het, beteken dit egter nie dat jy nou op jou louere kan rus nie. “Doen eerder die moeite om dit weer noukeurig na te gaan of professioneel te laat nagaan, proaktiewe stappe te doen en sodoende moontlik duisende rande se skade, en dalk selfs ernstige beserings, te vermy.”
Volgens Coetzee is daar talle dinge wat huiseienaars kan doen om seker te maak hul huise is gereed vir die reënseisoen.
“Maak alle geute en dakrande gereeld skoon want blare en ander plantoorskot kan verhoed dat water effektief weg van die dak af dreineer.” Dit is ook belangrik om die dak na te gaan en te soek vir teëls wat geskuif het, waterdigting wat verweer en dele van grasdakke wat nie meer dig gebind is nie. “Doen ook ʼn inspeksie van die binnekant van jou dak om seker te maak dat dit dig seël. Geen sonlig behoort sigbaar te wees nie, want as sonlig kan inkom, kan water ook.”
Verder moet alle deur- en vensterrame, veral dié wat van hout gemaak is, sowel as mure, vloere en fondamente nagegaan word vir krake waar water kan deursypel. “Maak seker dat alle dreineringsslote, -pype en -gate in ʼn goeie toestand is en hou ʼn ogie oop vir water wat opbou wanneer dit reën. Die opbou van water in jou erf of om jou huis kan stygende vog en probleme met die fondament veroorsaak.”
Verf beskerm jou huis teen water net soos vernis hout beskerm. “Wanneer jy jou huis verf, is dit belangrik om sommer ʼn goeie seëlaar in te sluit.”
Die druk van sterk wind, swaar hael of ʼn oormaat water kan bome en strukture maklik laat meegee. “Takke, tuinmeubels- en gereedskap of dele van strukture wat loskom kan ook in dodelike projektiele ontaard. Gaan items wat aan die elemente blootgestel word deeglik na en spreek alle risiko’s dadelik aan.”
Sekere areas of gebiede is meer geneig om kitsvloede of ander uiterste weerstoestande te beleef. “Dit is ʼn goeie idee om jou eie voorraad sandsakke en ander versterkings byderhand te hê. Kyk uit vir veiligheidsrisiko’s naby jou huis, soos swak dreinering, gekraakte strukture en grondverskuiwings en stel die owerhede onmiddellik in kennis.”
Binne die huis kan jy muurproppe installeer wat toestelle kan beskerm teen kragstuwings wat deur weerlig veroorsaak word.
“Dis dalk moeite, maar proaktiewe inspeksies en herstelwerk kan jou op die lange duur ʼn klein fortuintjie spaar,” sluit Coetzee af. “Dis egter altyd wys om goeie, omvattende huiseienaarsdekking te hê vir ingeval teëspoed jou tref.”
Bronne
Virseker: https://www.virseker.co.za/
Oops! We could not locate your form.